Indien ‘n nasie mag afstaan in die naam van geregtigheid, dan sal so ‘n nasie verseker wees van teoretiese roem en aansien, maar net so seker sal die oomblik kom waarin hy platgevee sal word deur ‘n mag wat die realiteit beter verstaan het as hy – Oswald Spengler
Dit is in hierdie klimaat van verval, nadat die Afrikaner sy mag afgestaan en polities platgevee is, wat nou nie net meer voorspellings is nie maar ’n werklikheid geword het, dat die Afrikaner besef dat hy opnuut vir sy vryheid moet stry. Dit het die vyande van die Afrikanervolk egter voorsien en menige oplossings op die tafel geplaas om die Afrikaner verdeeld te hou. Intussen is dit duidelik dat ’n Veelrassige Eenheidstaat nie in Suid-Afrika en ook in géén ander land van die wêreld, die vooruitsig het om te slaag nie, vanweë onder andere die geweld wat telkens daarmee gepaard gaan. Met die afstaan van ons politieke mag, het die Afrikaner ook die enigste haalbare en bewese suksesvolle resep vir selfbehoud in ’n veelvolkige samelewing, afgestaan.
BEGRIP VIR DIE REALITEIT
Reeds sedert 1948 het die Afrikaner besef dat om bloot fisiese rasseskeiding toe te pas waar die blanke heerskappy voer oor die nie-blanke binne blanke geledere, nie die ideale oplossing is nie. Terselfdertyd het hy ook besef dat rasse-integrasie vir verskeie redes onaanvaarbaar is. Dit is uit begrip vir hierdie realiteit waarna Spengler verwys, dat SABRA (Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede) as teenvoeter vir die uiters liberale Engelse SAIRR (South African Institute for Race Relations), wat daarna gestrewe het om rasvermenging af te dwing, ontstaan het.
As gevolg van die Afrikaner se beter verstaan van die realiteit in teenstelling met die moedswillige en vernietigende integrasie benadering van die Engelse, is die beleid van afsonderlike ontwikkeling ontwerp en verfyn sodat die sukses en gevolglike voorspoed wat daaruit voortgevloei het, selfs ons grootste vyande verstom het! Omdat dit nie in die beplanning van die vyande met die Afrikaner ingepas het nie en al die pogings om dit ongedaan te maak misluk het, is dr. Verwoerd na die tweede sluipmoord uit die weggeruim en het die integrasieplanne weer sterk na vore gekom.
KERK EN SAMELEWING
Feitlik direk na die moord op dr. Verwoerd, het John Vorster wat hom opgevolg het, begin om afsonderlikheid af te takel deur die sportbeleid van Suid-Afrika te verander sodat gekleurde spelers in blanke spanne opgeneem kon word. Sy opvolgers, naamlik P.W. Botha en F. W. de Klerk het voortgegaan met die aftakeling tot en met totale abdikasie aan ’n Swart Kommunistiese Meerderheidsregime in 1994.
Gedurende hierdie aftakelingsproses het daar op elke lewensterrein verskuiwings plaasgevind wat op sowel kerk as samelewing, ingrypende en verdelende gevolge gehad het. Die suiwer beleid van afsonderlike ontwikkeling, waaronder Suid-Afrika tot een van die mees vooruitstrewende lande in die wêreld gegroei het en waarby al die verskillende volke in Suid-Afrika gebaat het, is egter voortgedra deur die Herstigte Nasionale Party wat in 1969 ontstaan het onder die leiding van dr. Albert Hertzog en mnre. Jaap en Willie Marais wat hom opgevolg het.
Vanuit sowel die kerke as uit die verskillende samelewingsverbande se beheerstrukture is beginsel en beleid in hierdie tyd, tussen 1969 en 1994, doelgerig na links gekrenk om by die gees van die tyd aan te pas.
OPLOSSINGS OM DIE AFRIKANER SE DRANG NA VRYHEID TE BEVREDIG
Die onvermydelike opwelling van die Afrikanervolk se strewe om vry te wees, is deur ons vyande voorsien en verskeie oplossings is aangebied om ons besig te hou en gewelddadige verset te blokkeer. Hiervoor is telkens “regsgesinde Afrikaners” gebruik.
Nadat die HNP na verskeie verkiesings na 1969, telkens sy prestasies verbeter het, is die stadium bereik waar ten minste 18 NP setels se meerderhede dermate afgebring is dat hulle in 1981 grenssetels geword en waarskynlik in ’n volgende verkiesing deur die HNP verower sou word.
Om dit te verhoed het die Konserwatiewe Party tot stand gekom in 1982 nadat daardie 18 kandidate uit die NP bedank het. Die KP het as opvangsgebied tot stand gekom om te verhoed dat die suiwer Nasionale beginsels en die Beleid van Afsonderlike ontwikkeling onder die vaandel van die HNP, weer die politieke oorhand kry.
’n Verwagting van moontlike militêre ingryping is lewendig gehou deur die stigting van die AWB. Die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) is op 3 Julie 1973 in Heidelberg ( die destydse Transvaal) deur Eugène Terre’Blanche op die been gebring. Terreblanche en Jan Groenewald wat albei aanvanklik by die HNP aangesluit het en onderskeidelik leier en sekretaris van die AWB, het albei uit die Buro vir Staatsveiligheid (B.O.S.S.)van John Vorster gekom. Die doel was om ‘n eksklusiewe volkstaat vir Afrikaners te weeg te bring, gebaseer op die model van die Boererepublieke onder die ou “Vierkleur” (vlag). In die AWB se visie van ‘n volkstaat slegs vir wit mense, sou swartmense net tydelike gasarbeider-status kon verkry. Afgesien van wit Afrikaners, sou witmense wat nie Afrikaners was nie, ook om nasionale burgerskap kon aansoek doen solank hulle Christene was. Klem is egter deurentyd op para-militêre benadering gelê wat by baie Afrikaners die geweldsopsie as vooropgestelde benadering gevestig het en waarvoor hulle gereed was om ons vryheid mee te beskerm.
Die Buro vir Staatsveiligheid is in 1969 tot stand gebring waarskynlik hoofsaaklik om die vordering van die HNP te monitor en is in 1980 vervang deur die Nasionale Intelligensiediens (NI). Lt.genl Hendrik van den Bergh het in Augustus 1968 toestemming by John Vorster en P.W. Botha verkry vir stigting van 'n oorhoofse intelligensieliggaam. Die Buro se taak was om nasionale veiligheid te moniteer, en is onder leiding van Van den Bergh geplaas.
Die organisasie is in Mei 1969 bekendgestel, en was gou by die media as B.O.S.S. bekend. Kommer oor die organisasie se wye mandaat en volmag is gou uitgespreek, aangesien dit 'n gesentraliseerde liggaam was wat intelligensie-insameling vir beide die polisie en weermag sou behartig.
Dit is interessant om daarop te let dat ten spyte van dringende versoeke, daar nie by die HNP aansluiting gesoek is nie maar eerder ’n beleid van Konfederasie en vestiging in ’n sogenaamde volkstaat gesoek is wat die historiese aanspraak van die Afrikaner op die Republiek van Suid-Afrika onmiddellik in gedrang sou bring en terselfdertyd die regmatigheid van swart aanspraak sou erken.
Om die beleid van apartheid verder te stigmatiseer, is geweldige druk vanuit veral die NG-Kerk op lidmate geplaas om in skuldbesef toe te gee aan die afsien van die skeidingsbeginsel en aanvaarding van “nie-rassigheid” (iets wat nie bestaan nie), totdat die weerstand so groot geraak het dat die kerk geskeur het en die AP Kerk (Afrikaanse Protestantse Kerk), as geestelike opvangsgebied ontstaan het.
SABRA Gedurende die 1960’s het SABRA ’n oop oor by die destydse regering gehad en die herskikking van Suid-Afrika in ’n gemenebes van etniese state bevorder. Dit het nie net die bevordering van die gedagte behels nie, maar ook bydraes tot die implementering daarvan op tallose terreine. Veral onder dr Verwoerd is die ontwikkeling van volkstate vir die swart bevolking as praktiese politiek beskou en het SABRA se rol by uitstek tereg gekom. Die werksaamhede het dan ook ’n sterk volkekundige inslag gehad en is by wyse van kongresse, jeugkongresse, publikasies en adviese so wyd moontlik in die Afrikanergemeenskap uitgedra en onder besluitnemers op alle vlakke se aandag gebring.
Terwyl SABRA vir die grootste deel van die 1970’s formeel dieselfde status beklee het en dieselfde rol gespeel het, het dit al meer duidelik geword dat die middelpuntsoekende kragte en belange in Suid-Afrika toenemend die botoon sou voer. Namate die vooruitsig dat ’n gemenebes van onafhanklike, swart tuislande as waarborg vir Blanke selfbeskikking in die res van Suid-Afrika sou dien, verflou het, het SABRA hom vir ’n eie ruimtelike bedeling vir Afrikaners begin beywer. Die NP-regering onder adv BJ Vorster wat afsonderlike ontwikkeling nog nominaal as beleid onderskryf het, het dit egter duidelik gemaak dat hy die omgekeerde weergawe daarvan, oftewel ‘n “blanke tuisland” nié as praktiese politiek beskou het nie.(My beklemtoning)
Die gevolg was dat SABRA gedurende die 1980’s, veral as gevolg van sy kritiek op die voorgestelde Driekamer Parlement, sy bande met die regering verbreek het en ‘n (nouwel ongemaklike) aansluiting by die destydse regse beweging gevind het. Dit het minstens die belofte ingehou dat etniese belange van beide Afrikaners en swart Suid-Afrikaners as uitgangspunt van toekomstige staatkundige ontwikkeling kon dien. Dit het met ’n ernstige verlies van status en inkomste gepaard gegaan en het ’n afname van aktiwiteite en invloed meegebring.
Namate die regse politieke beweging nie daarin kon slaag om politieke beheer oor te neem nie en toenemend tussen ordebevestigende en reaksionêre sentimente vasgeval het, het SABRA gedurende die 1990’s ’n meer onafhanklike houding ten gunste van ’n Afrikanervolkstaat ingeneem. SABRA het deel van die inisiatief wat op die vestiging van Orania uitgeloop het, uitgemaak en sy kantoor ook in Orania hervestig.
Ná sowat vyf dekades en ’n geskiedenis wat gewissel het tussen groot invloed en regstreekse inspraak aan die een kant en beperkte invloed sonder veel inspraak aan die ander, het SABRA sy posisie én die van Afrikaners in die algemeen diepgaande heroorweeg en tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaners nie net nuwe politieke strategieë nodig het nie, maar ’n hele nuwe politieke idioom om hulle vryheidstrewe op ’n verstaanbare en aanvaarbare wyse uit te druk. Aan die hand daarvan het hy van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede oorgegaan in EPOG met die klem op die sleutelterme van ekonomie, politiek, omgewing en geskiedenis.
Dieselfde grondliggende beskouing, naamlik dat die mens nie éérs abstrak en individueel bestaan en dan by wyse van ’n soort historiese kontrak in samelewingsverhouding tree nie, maar dat konkrete, lewendige mense hulle altyd alreeds in gemeenskap van gesin, taal, geloof, gebied, ensovoorts bevind en minder of meer gesofistikeerde verhoudings aan die hand daarvan aanknoop, was eens by SABRA en is nou by EPOG aan die orde. Só gesien is die vrye individu met universele regte nie ’n oergegewe nie, maar die resultaat van ’n komplekse geskiedenis – iets wat enersyds nie verabsoluteer moet word nie en andersyds slegs binne ‘n betekenisvolle verband in beskerming geneem kan word, en dan slegs as die voorwaardes daarvoor voldoende verreken word. ( Aldus SABRA)
BESTE POGINGS FAAL
Nadat geen van die pogings wat aangewend is om die totale Afrikanerdom van sy beginselbasis af te skuif nie omdat die Herstigte Nasionale Party onder sterk leierskap volhardend die kern van Afrikaners op koers gehou en hulle nasionalisme gevoed en brandend gehou het, is verskeie organisasies en strukture gevestig om Afrikaners onder valse voorwendsels te laat glo dat daar nie ander keuse is as aanvaarding van ‘n multi kultuur en afskeiding in ‘n volkstaat nie.
Ds. Mossie vd. Berg, toe hy nog voorsitter van Rdio Pretoria was! Ek haal aan uit sy publikasie getiteld:
TOEKOMS vir SUID-AFRIKA
6 APRIL/31 MEI 2002
deur Mossie van den Berg
: ..” daar kan ook nooit nog.... of weer.... gedroom word van herstel van ‘n “Blank SA” waar die “witman” weer sal “baas wees” nie.”
Op bladsy 21: Die herowering van die staatsgesag in die “Nuwe SA” langs konstitusionele weg is alles behalwe ‘n onmoontlike taak! Wat nodig is, is alleen dat Afrikanervolkspolitiek sal uitmond in SA volkerepolitiek. (‘n Broederbond breinkind soos by geleentheid aan my verduidelik deur die voormalige minister van landbou in die de Klerk kabinet, Greyling Wentzel) Die Afrikaner het nie die stemvee om ‘n stembusoorwinning oor die ANC te behaal nie. Maar 11 volke wat boonop nou die dag nog glo uit 70% “Christene” bestaan het, het wel die nodige getalle.”(Aldus ds. Mossie)
AFRIAL
“Die Afrikaner Alliansie”, onder leiding van Dr. Willie Marais van die NG Kerk, wat “homself sien as ‘n volksbeweging wat aan al die aksies ‘n geleentheid bied om saam met die ander aksies hulle lang gekoesterde ideale vir volk en vaderland te bereik”, volgens die eerste bulletin genaamd Afrial Bulletin nr. 1 van 2003 Maart 2003.
“Op die regte datum gaan ons ‘n volkskongres belê waar ‘n Afrikanerraad gestig gaan word om vorentoe namens die Afrikanervolk die sake wat vir die Christendom en vir die oorlewing van ons as volk noodsaaklik is, met die owerheid te beding.” Staan daar in die bulletin op bladsy 4, terwyl in die Program van beginsels van Afrial op bladsy VI onder die opskrif: Ons program van optrede, “Ons onderhandel met die betrokke owerhede oor sake van gemeenskaplike belang waaroor onderling konsensus bereik is.”
In ‘n verkiesingspamflet van die NP van 1987 onder die opskrif, “Die pad van die NP: Vorentoe met realisme.” is een van die punte, Onderhandeling is die sleutel tot medeseggenskap oor gemeenskaplike sake sonder oorheersing van een groep oor ‘n ander”
Nie ds. Mossie se Toekoms vir Suid-Afrika, of dr. Willie Marais se Afrial, of Vekom, of Orania, of die groep van 24, of die Volkswag, of Bybel en Volk kon daarin slaag om Afrikaners weer saam te bind in ’n hegte volksgebonde en eensgesinde teenvoeter vir die aanslag op ons nie. Stadig maar seker was die Afrikaner se vryheidsdrang besig om te ontwaak.
Die pogings om die Afrikaner sedeloos en daardeur weerloos te maak is verskerp deur pornografiese beeldsendings en verswarting van sportspanne met gepaardgaande by-eenkomste in swart woongebiede waar besoeke aan sjebiens in die media opgehemel is as vooruitgang in nasiebou. Buite-egtelike verhoudings onder vermaaklikheidspersoonlikhede word deur die media gedra op ’n wyse wat dit as aanvaarbare gedrag voorstel om die jeug te beïnvloed en sport op Sondae word aanvaar omdat besighede se advertensies in elke koerant en tydskrif lui: Open 7/24. Godsdiens in die skole skep monsters, word gesê en die kerke val sonder uitsondering apartheid aan en demoniseer tradisie, Afrikanerskap, volkskap en konserwatisme as rassisties en meerderwaardig.
Die bedenklike wyse waarop Radio Pretoria met die Afrikaner se geld en ondersteuning ’n “volksradio” bedryf, het geen bydrae gelewer tot samehorigheid nie. Die voorkeur wat deurgaans aan onderhoude met en uitreik van verklarings en menings van die Afrikanervyandige Demokratiese Alliansie en die VF-Positief wat in politieke-sonde-gebore-en-ontvang is, het talle vrae laat ontstaan oor veral die gebrek aan ’n duidelik omlynde beleid en die werklike oogmerke van dié stasie.
Belydenisse van verskeie voormalige kabinet en weermaglede dat die grensoorloë bloot gedien het om tyd te koop vir ’n politieke skikking, was terselfdertyd ’n openbaring van die invloed van geheime organisasies wie se invloed ook sigbaar geword het in die georganiseerde landbou waar onderhandeling eerder as verset aan die orde is.
Die aandrang is steeds weg van die beginsel van die handhawing van eiesoortigheid, of apartheid as u wil. Vakbond Solidariteit en Burgerregte organisasie AfriForum is albei veelrassige organisasies, maar die beeld wat voorgehou word, is dié van stryders vir die Afrikaner se regte. Die vangplek is egter dat beide ds. Mossie se siening huldig en hulle hul be-ywer om deur onderhandeling die “nuwe” Suid-Afrika as ’n nie-rassige staat met magsdeling, waar een ras nie ’n ander oorheers nie, te laat werk.
Die kaping van die Afrikanerfront wat deur mnr. Willie Marais op die been gebring is met die uitsluitlike doel om bestaande Afrikaner organisasies tot samewerking oor te haal in sake van gemeenskaplike belang, het al gou sy kleur onder leiding van veral die verkenners en beginselafwykende HNP leierskap gewys in hulle ywer om ’n volksraad van sewe deur ’n verkiesing aan te wys wat met die regime moet gaan onderhandel oor ’n ………..Ja, ’n volkstaat!
Dit moet dan die laaste en finale skuif wees om alle Afrikaners los te maak van hulle aanspraak op Suid-Afrika. Die VVK oftewel Volksraad Verkiesings Kommissie, praat dan volgens hulle, namens die ganse Afrikanervolk.
Die sukses vir die vyand lê in die prysgawe van ons aanspraak op Suid-Afrika deur die aanvaarding van die volkstaatgedagte en nie in die uitvoering daarvan nie. Daarmee saam bevestig dit die swartes se aanspraak en voorsien dit die wetmatigheid wat tot nou toe nog ontbreek omdat daar Afrikaners is wat hulle onwettigheid kan en sal bevestig deur ons volgehoue weiering om die onregmatige beheer wat hulle deur verraad bekom het te erken.
Deur te registreer het u nog niks verkeerds gedoen nie. Om egter te gaan stem sodat ’n afvaardiging van sewe die Republiek van Suid-Afrika wat met bloed betaal is, vir ’n pot lensiesop te gaan verruil, sal net so verraderlik soos F. W. de Klerk se abdikasie wees omdat u daardeur ons land afskryf soos wat hy dit gedoen het. Tot die Afrikaner se vryheid, sal dit minder as niks bydra nie.
Die Afrikaner Volksparty sê onomwonde dat niemand namens ons praat nie en dat ons soos ons voorgeslag sal staan en val by die Republiek van Suid-Afrika as die Afrikanervolk se grondgebied, in soverre as wat God ons sal help.
Die Vyfde Vers
Uit die put van ons ellende
En die diepte van ons smart
Met ons swaar geboë skouers
Oor ons uitgedeelde land
Hoor ons steeds die helder roepstem
Van ons land Suid-Afrika
Sal jy lewe sal jy sterwe?
Sal jy offer wat ek vra?
Sonder twyfel in ons harte
Sê ons altyd dadelik "Ja"
Ons verlede en ons toekoms
Is in ons land Suid-Afrika
DJ Muller Julie 2011
