Media

DIE STREWE NA GEREGTIGHEID

Lees: Ps 23

Salig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word – Matt 5:6

In die Ou Testament word die woorde, honger en dors, gesien as ‘n verlange na God. In hierdie geval gaan dit egter om ‘n verlange om reg te doen in God se oë. Diegene wat ‘n begeerte het om met ander mense volgens die voorskrifte van God te handel, sal salig of geseënd wees. Indien ‘n persoon hierdie hongerte en dors in sy lewe ervaar, sal God self die versadiging gee.

Dit kom eintlik alles in die tweede tafel van die wet na vore nl. liefde vir die medemens. Wanneer ‘n mens egter geregtigheid op jouself toepas, verval dit baie keer in eiegeregtigheid. Daarom is dit nodig om altyd jouself aan die wet van God te ondersoek, om so te sien wat ware geregtigheid is. Wanneer ons na ons kerk toe gaan, nie omdat ons honger is vir geselskap, of uit tradisie, of selfs uit vrees vir die dood nie, maar omdat ons honger en dors na die geregtigheid van die koninkryk van God. Dan sal ons as versadiging ontvang, die bevryding van ons eiegeregtigheid. Dan sal ons leer om ons eie ek te kruisig en God eerste in ons lewe te stel.

Jesus sê vir ons dat Hy die Brood van die lewe is en as ons na Hom toe kom sal ons nooit honger word nie. As ons in Hom glo sal ons nooit dors kry nie. By Jesus lê die uitnodiging om versadig te word. Dit lê by ons om die uitnodiging te aanvaar. Salig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

 

Gebed:                   Here, help my om nie in eiegeregtigheid te verval nie, maar om te honger en dors na geregtigheid. AMEN.