Media

HOEKOM SELFBESKIKKING ERKEN MAAR APARTHEID VERWERP?

 Apartheid word deur die internasionale reg veroordeel as ‘n misdryf teen die mensdom. Dit word ook gesien as 'n miskenning van die reg op selfbeskikking, terwyl selfbeskikking weer ‘n internasionaal erkende reg is.  Dit word gedoen ten spyte van uitsprake van vroeëre regerings van Suid-Afrika dat apartheid juis uitdrukking gee aan die reg op selfbeskikking van volkere.  In 1976 nog het die Minister van Buitelandse Sake, Hilgard Muller, soos volg verklaar:

" Our objective is self-determination for all the peoples in Southern Africa. The majority of every nation or population group should be enabled to elect their own Government...".

 

Die tuislande wat kragtens wetgewing onafhanklikheid gegee is, is deur vroeëre Suid-Afrikaanse regerings beskou as die verwesenliking van die inwoners (volke) van daardie tuislande van hulle reg op selfbeskikking.

 

Sedert die bewindsaanvaarding van John Vorster in 1966 is daar 'n dubbelslagtige beleid gevolg met apartheid deurdat die beleid nie gepaardgegaan het met volkome skeidings maatreëls nie.  Daar is enersyds steeds voortgegaan met die beleid om onafhanklikheid vir tuislande daar te stel vir die swart volkere, maar terselfdertyd is integrasie op verskeie vlakke van die samelewing goedgekeur en inderdaad deur die regering aangemoedig, ten spyte van die Vorster-, Botha- en De Klerk-regerings se ontkennings. Daarby is 'n beleid van integrasie  gevolg ten opsigte van die Kleurlinge en Indiërs deur hulle in te trek in die “Driekamer-Parlement”. Ook het hierdie NP-regerings die Blanke samelewing stelselmatig aan integrasie onderwerp soos die sportbeleid dan ook duidelik bewys van was. Die Blankes is dus voorberei vir integrasie, terwyl die teendeel nog “amptelike NP-beleid” was. Daar is dus stelselmatig afstand gedoen van die beleid van apartheid soos dr Verwoerd dit beoog en geïmplementeer het.

 

Wat is selfbeskikking?

 

Selfbeskikking kan omskryf word as die reg van 'n volk (of die inwoners van 'n grondgebied) om self oor hulle toekoms te besluit. Die uitgangspunt is dat 'n volk of die inwoners van 'n grondgebied vryelik moet kan besluit oor hulle politieke toekoms en die regering wat oor hulle regeer.  Daar is egter geen internasionaal-erkende definisie nie, met die gevolg dat die begrip as vaag beskou kan word en in omstredenheid gehul is.  Die sogenaamde ("self") (volk of groep persone) wat die objek vorm van hierdie reg, word nie omskryf nie en die reg(te) (die aangeleenthede) waaroor hierdie objek kan besluit, word ook nie omskryf nie.

 

Dr Verwoerd se beleid

 

Suid-Afrika het sedert die bewindsaanvaarding van dr HF Verwoerd in 1958 besluit om 'n beleid te volg wat nie bloot gerig was op blote skeiding (segregasie) nie, maar op skeiding wat gepaardgaan met selfregering vir die verskillende bevolkingsgroepe van Suid-Afrika.

 

Op 12 November 1958 het Dr Verwoerd hierdie beleid soos volg geformuleer:

 

"'n Mens kan jou nie 'n toekoms vir Suid-Afrika voorstel wat nie in een van die twee rigtings ontwikkel nie:  Of die bantoe sal sy regte moet hê in sy eie gebiede en die blanke volk regeer in sy gebied, òf daar sal 'n deurmekaar Suid-Afrika moet wees met die heerskappy in die hande van die meerderheid, naamlik die bantoe".

 

Op 27 Januarie 1959 gaan hy verder deur die beleid soos volg te verduidelik:

 

"Ek sorg ook dat ek 'n pad kies waarin die blanke aan die een kant in sy gebied die volle bestuursreg alleen behou, maar waarin ek aan die bantoe, onder my sorg as voog, die volle geleentheid gee om in hulle gebiede hul voet te sit op 'n pad van ontwikkeling waarop hulle kan vorder ooreenkomstig die vermoë wat hulle het".

 

Daar is dan ook onmiddellik voortgegaan om wetgewing te implementeer ten einde hieraan uitdrukking te gee.  Op 20 Mei 1959 het Dr Verwoerd verklaar dat daar geen perke rus op die strewe van die bantoe om hul gebiede tot onafhanklike state te ontwikkel nie.  Hy verklaar dat hy:

 

"... liewer op die ou end sit met 'n kleiner staat in Suid-Afrika wat blank is ... as met 'n groter staat wat al klaar weggegee is aan bantoe-oorheersing".    

 

Op 24 Mei 1959 te Vrede stel Dr Verwoerd die beleid soos volg:

 

"Die wêreld moet oortuig word dat die blankes in Suid-Afrika ook 'n reg het.  Die blanke gaan as blanke sy gebied regeer, maar hy gaan aan die bantoe sy gebiede gee waarin hy self kan regeer".

 

Belangrik is sy opmerking op 5 September 1959 toe hy gereageer het op die Verenigde Party wat beweer het dat die Nasionale Party met sy beleid die land wil verdeel:

 

"Ons wil nie die land verdeel nie; die geskiedenis het hom verdeel."

 

Dr Verwoerd se beleid het daarop neergekom dat blote skeiding onvoldoende was in die lig van die aanspraak van volke op volledige selfbeskikking asook die aandrang op stemreg en veral om op die hoogste vlak van 'n land se regering verteenwoordig te word.

 

Internasionale reaksie

 

Hierdie beleid van Dr Verwoerd is deur internasionale regslui beskou as 'n skending van die beginsel van uti possidetis.  Laasgemelde beteken dat die koloniale grense van state (al is dit hoe arbitrêr getrek deur die imperiale magte), nie gewysig kon word nie. Die internasionale gemeenskap het geargumenteer dat Suid-Afrika die land wil opkerf en die Swartes hulle regte op daardie wyse wou ontneem.  Dr Verwoerd se antwoord daarop was dat die geskiedenis self hierdie grense getrek het en dat hierdie gebiede in elk geval deur hierdie mense bewoon was.  So het hy op 11 September 1962 gestel dat die regering nie Transkei of Zoeloeland geskep het nie, net so min as wat Engeland Basoetoland (Lesotho) en Swaziland geskep het. Dit was volgens hom 'n (natuurlike) verdeling wat deur die geskiedenis gebring is en dat, soos in Europa, Suid-Afrika probeer om met grenslyne orde te skep en daardeur die blanke se erfreg te verseker.

 

Dit is interessant om daarop te let dat die wêreldgemeenskap die beginsel van uti possidetis in sekere gevalle, soos Suid-Afrika hoog opgee as beginsel, maar waar daar 'n afskeidingsbeweging is wat uiteindelik hulle onafhanklikheid verklaar, soos in die geval van Eritrieë (wat suksesvol afgeskei het van Ethiopië en erken is) die beginsel van uti possidetis blykbaar nie meer aanwending vind nie.  Die internasionale gemeenskap het somtyds geen ander “keuse” as om kennis te neem van 'n nuwe feitelike situasie waar ‘n staat ontstaan het nie.

 

Die ander argument wat teen die beleid van Dr Verwoerd gehou word, is die feit dat die meerderheid van die bevolking van die RSA nie die "selfbeskikking" soos hy dit gesien het, wil hê nie.  Die vraag wat hier moet gevra word is: Watter meerderheid?  Indien die bevolking van 'n land in sy geheel gesien word, sal klein volkere immers nooit 'n aanspraak kan hê op volledige selfbeskikking nie en word die historiese aansprake van volkere op grondgebiede eenvoudig van die tafel gevee.  So 'n standpunt neem as vertrekpunt bloot die feitelike situasie in 'n land sonder om die demografie en historiese verloop van so 'n land en dié se inwoners in aanmerking te neem.

 

Daar kan met reg geargumenteer word dat dr Verwoerd die ontwikkeling van selfbeskikking eintlik vooruitgeloop het met die stappe wat hy in Suid-Afrika wou implementeer.   Dit is wel so dat daar vandag gesê kan word dat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking die weg van integrasie gekies het, maar is dit ook 'n feit dat die keuse van selfbeskikking in 'n eie grondgebied nooit aan die verskillende volksgroepe gestel is nie.  Die media (aangespoor deur hulle geldbase) het dan ook bepaalde persepsies oor die aangeleentheid geskep.  Die saak is nooit objektief in die media beredeneer nie.

 

Volkstellings

 

Die internasionale wêreld is baie gesteld daarop dat waar selfbeskikking ter sprake is, die mening van die mense (van die gebied) by wyse van 'n volkstelling of referendum verkry moet word.  Wat in Suid-Afrika gebeur het is dat die bevolking bloot as 'n geheel beskou is en dat die uitslag van die verkiesing gesien is as 'n duidelike standpunt inname vir selfbeskikking van die bevolking van Suid-Afrika as 'n geheel.  Dit is 'n ontkenning van die reg op selfbeskikking soos dit deur dekades heen ontwikkel het, synde die reg duidelik bedoel was om aan groepe toe te kom en dit ook baie duidelik is dat die groepe wat inderdaad hierna strewe, volkere is, en nie bloot die totale inwoners van 'n land nie.  In hierdie verband kan bloot gewys word op die uitspraak van Woodrow Wilson na die Tweede Wêreldoorlog en die feit dat die volke in die ou USSR en Joegoe Slawië, toe hulle enigsins in die geleentheid gestel is, hulle reg op selfbeskikking uitgeoefen het.

 

Wat in Suid-Afrika gebeur het, is dat die Xhosa’s die reg op selfbeskikking verkry het (synde die land effektiewelik deur Xhosa’s regeer word), alhoewel hulle nie eers die meerderheid volk in Suid-Afrika is nie.  Die Zoeloe volk weer, wat die meerderheid is, moes uit die oogpunt van meerderheidsregering gesien, die onderspit delf. 'n Mens kan trouens redeneer dat nie een volk tans die reg op selfbeskikking het nie, maar dat daar bloot meerderheidsregering is ten aansien van die geheel van die bevolking van Suid-Afrika.

 

Dr Verwoerd se waarskuwings het op dowe ore geval.  Vandag staan die Afrikaner baie verder van selfbeskikking as in 1966 en baie nader aan anargie en uitwissing.

 

Is apartheid ‘n misdryf?

 

Hierbo is gewys op die feit dat die beleid van apartheid ten doel gehad het om aan elke volk in Suid-Afrika volwaardige onafhanklikheid binne ‘n eie staat te gee en dat dit niks anders is as die grootste vorm van selfbeskikking wat enige volk ten doel stel nie.

 

Vir die Afrikaner Nasionalis is apartheid 'n suiwer begrip. Dit is 'n wyse van lewe - dit is 'n lewens wet. Dit berus op die wette van die natuur dat daar altyd onderskeid tussen die een en die ander saak sal wees, dat mense voortdurend diskrimineer in hulle keuses van lewensmaats, vriende, sakekennisse, wat hulle eet en drink en doen. Ook die diereryk ken hierdie diskriminasie. Dit moet dus vreemd op die oor val dat 'n lewens wet nou as 'n misdryf beskou word.

 

Die verraderlike en misbenaamde "Nasionale Party" moet die blaam dra vir die feit dat apartheid nie alleen as misdryf beskou word nie, maar dat ons volk permanent in die beskuldigdebank staan oor apartheid. Tog pateties hoe die “kragdadige” NP-leiers van die jare 1970 tot 1994 destyds voor die WVK gekruip het om amnestie te verkry, en dit vir dade wat in die naam van apartheid gepleeg is, maar met ware apartheid niks te doene gehad het nie.

 

Sedert 1966 het die Verenigde Nasies uit sy pad gegaan om apartheid as internasionale misdryf erken te kry. Die Internasionale Konvensie op die Onderdrukking en Bestrawwing van die misdaad Apartheid het op 18 Julie 1976 in werking getree nadat voldoende state die konvensie onderteken en partye daartoe geword het. Die konvensie is in 1973 by wyse van 'n besluit deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies aangeneem. Die konvensie is slegs bindend op die state wat partye daartoe is. 

 

Die misdaad word omskryf as daardie spesifieke handelinge wat gepleeg word met die doel om dominasie deur een rassegroep oor 'n ander daar te stel en te handhaaf en die geleidelike onderdrukking van so 'n rassegroep. Dat dit nooit die doel van apartheid was nie, weet enige regdenkende Blanke. Pik Botha het in 'n toespraak in die einste Verenigde Nasies verklaar dat apartheid nie moreel verdedigbaar is nie. So is die weg gebaan om apartheid en die “apartheidsregering” te verwyder!

 

Wie is die skuldiges?

 

By 'n behoorlike uitleg van die konvensie blyk dit dat die spesifieke handelinge wat bestraf moet word, eerder op die weg van daardie state in Afrika lê wat ander volksgroepe vertrap en vermoor het, en dat afsonderlike ontwikkeling juis aan volkere staatkundige vryheid wou gee, soos dit inderdaad aan die TBVC-lande gegee het. Die interpretasie wat egter nou selfs deur die NP-leiding aan apartheid gegee is, is petrol op die vuur van diegene wat die misdryf geloods het.

 

Dat die teenstanders van apartheid van terreurdade en terrorisme gebruik gemaak het om apartheid aan te val, het die wêreld geen vinger laat verroer nie. Sulke dade word trouens as regverdigingsgronde gesien. Daaruit blyk dan ook die skynheiligheid en totale partydigheid van die Verenigde Nasies.

 

Die Broederbond en NG Kerk het natuurlik ook ‘n bydrae gemaak om apartheid as misdryf erken te kry. Deur apartheid as onverdedigbaar en tot sonde te verklaar was die voorspel wat nodig was om die sirkel te voltooi: van sonde tot misdryf. Dus, laat die regeringsleiers eers verklaar dat apartheid moreel onverdedigbaar is; indoktrineer die volk dan genadeloos tot by 'n punt waar die volk onder aandrang van sy kerkleiers bely dat dit sonde is, sodat daardie volk uitgelewer is en geen morele en etiese grondslag het waarop hy kan staan wanneer jy vir daardie volk sê dat dit 'n misdryf is nie.

 

Aanslag teen volkwees

 

Die aanslag teen apartheid is 'n aanslag teen die bestaan van afsonderlike volkere. En omdat volkskap eksklusief is, moet 'n volk om sy aard te behou, diskrimineer teen ander volke. Daarom trek volke grense. Apartheid gaan nie net oor aparte woonbuurte nie, dit gaan oor totale selfbehoud. 'n Volk wat nie apartheid as hoë wet vir sy voortbestaan voorop stel nie, het geen reg of hoop op voortbestaan nie. Daarom moet apartheid deur 'n volk op sy totale lewensterrein gehandhaaf word. Wanneer Afrikanerleiers hulleself distansieer van apartheid, moet mense opeens besef hoe gevaarlik sulke leiers vir 'n volk is. Want tussen apartheid en integrasie is daar niks wat standhoudend is nie. Links van apartheid is 'n glybaan na integrasie. Die sogenaamde aandrang op demokrasie en demokratiese waardes is dan ook niks anders as die uitwissing van alle vorme van onderskeid tussen volkere nie.

 

Richard Weaver het gesê as demokrasie gelykheid van omstandighede beloof, is dit in wese 'n ongeregtigheid wat aan die hand gewerk word; want dieselfde wet vir die leeu en die bok is tirannie. En dieselfde wette vir volke waarvan die getalle verskil binne die grense van een land onder die vaandel van demokrasie is dwingelandy van die kleiner volkere. Die hedendaagse demokrasie vereis konformering met die meerderheid. Weaver maak dan ook die baie interessante opmerking dat demokrasie 'n kontradiksie is, aangesien 'n verkiesing 'n baie ondemokratiese proses is; dit "verkies" en diskrimineer dan! Hoe kan daar sprake wees van die beste man as almal ewe goed is? Dit blyk dat in 'n "ware demokrasie" verteenwoordigers deur die lot aangewys behoort te word.

 

Apartheid is selfbeskikking

 

Daar is al opgemerk dat 'n volk na homself trek en nie na ander beweeg nie. In tye soos hierdie sal die Afrikaner homself weer opnuut moet beroep op sy afkoms, sy gesinsverband, sy geskiedenis, sy heldedom, sy afsonderlikheid in Afrika; want dan sal die magnetisme van die kern weer trek en bind.

 

Apartheid is selfbeskikking in sy hoogste vorm. Dit is geen misdryf of sonde nie, maar die enigste beleid wat moreel verdedigbaar is in ‘n grondgebied met ‘n veelheid van volkere.