UITTREKSEL UIT DIE TOESPRAAK VAN DR. H.F. VERWOERD MET DIE AANKONDIGING VAN SELFBESTUUR VIR TRANSKEI, 23 JANUARIE 1962.
Laat ons die oplossing van ‘n veelrassige staat ’n bietjie nader bekyk. Of dit nou federaal georganiseer word of volgens ’n ander stelsel, maak vir my argument eintlik geen saak nie. As die een veelrassige staat ‘n federaal georganiseerde staat sou word (ooreenkomstig Verenigde Partybeleid) of die eenheidstaat (volgens Progressiewe Partybeleid met ’n beskawingstoets), of ‘n eenheidstaat (volgens die Liberale Party se voorstel van een-man-een-stem) en hy sou tegelykertyd waarlik demokraties wees en in ooreenstemming met die tydgees wat in die wêreld heers, dan sal dit onverbiddelik moet lei tot Bantoe-oorheersing. Want die getalle sal op die ou end moet tel.
Dit is wat die tydgees verlang. Dit heet hedendaags werklike demokrasie.
Dit is nie wat die Kommuniste beoefen nie. Dit is nie eens wat die Afrika-state beoefen nie. Dit is waarvoor druk uitgeoefen word wanneer eise gestel word teenoor ons land. Met ander woorde, die Integrasiepad mag vertraag of versnel word, maar onverbiddelik loop dit uit op Bantoe-heerskappy. Daaruit is dan geen redding nie. Die gevolg daar van moet wees ’n onreg teenoor alle minderheidsgroepe. My agb. vriend het verwys na Tanganjika. Die korrekte verwysing daarna sou in hierdie verband wees: In Tanganjika het Brittanje en andere daarop staatgemaak dat Nyerere gematig is en in beheer sou bly en dat hy die Blankes (20,000) en die Indiërs (100,000) medeseggenskap sou gee. Dit is waar dat hulle, as minderhede verdring sou word wanneer die hele bevolking saam ’n eenheidskieserkorps is. Dit is egter ook waar dat hulle vereers dit nie verwag het nie, maar dat hulle verwag het dat elke groep op ’n kommunale basis min of meer gelyke mede-seggenskap sou kry. Nou vind ’n mens dat selfs in die staat – wat die verwagtings ook al was en afgesien van wat ook al mag gebeur het – niks anders gebeur as elder nie, nl. dat die Bantoe sê: “Dit is my land en ek wil volle heerskappy hê, want ek is in die meerderheid”. Blankes en Indiërs word dus daar gelyklik getref.
Dit sal ons Kleurlinge en ons Indiërs in ag moet neem. Hulle moet nie dink dat hulle beskerming het op grond van hul verkleur nie. Die minderheidsgroepe sal almal rekening moet hou met ’n onbeperkte Bantoe-heerskappy as een veelrassige staat tot stand kom
Ek steek dit nooit weg nie. Jy moet by die keuse tussen die alternatiewe albei toets - of jy liewers die huidige toestand wil behou of nie. En dan sê ek ondubbelsinnig: die gevolg van een veelrassige staat kan die volk van Suid-Afrika nie aanvaar nie tensy die Blanke, die Kleurling en Indiër rasseselfmoord wil pleeg. (My beklemtoning)
