Lukas 23:33-49
In die gelese gedeelte is daar vir ons drie getuienisse sigbaar, nl. die getuienis van Jesus Christus as volmaakte Lam geslag vir sy kinders wat in Hom glo en die getuienis van die twee kwaaddoeners wat saam met Hom gekruisig was.
Ons fokus gewoonlik op die getuienis van Hom wat gekruisig is, maar vergeet maklik dat hierdie getuienis en aanvaarding daarvan die begin van my verantwoordelikheid is om ook ‘n getuienis te lewer. Die twee kwaaddoeners wat saam met Christus gekruisig was, het in hul laaste lewensure ook elkeen ‘n getuienis gelewer, alhoewel die een nie ‘n positiewe getuienis was nie. Die een kwaaddoener se gesindheid was eie aan die omstanders en die massa se mening en gesindheid van versmading en veragting en spot van Christus. Hy versoek Christus in die gedeelte deur sy woorde in vers 39 “En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Hy gee dus te kenne dat hy dalk in Christus sou glo, afhangend van wat Jesus vir hom sou kon doen, al dan nie. Hy wou ‘n voorwaarde daarin stel waaraan voldoen moet word alvorens hy sou glo dat Jesus die Christus is en mag het om te verlos.
Die ander kwaaddoener bestraf die kwaaddoener wat vir Jesus smaad met die diepe besef dat hulle die regverdige straf vir hul oortredinge ontvang, maar bely terselfdertyd dat Christus onskuldig daar saam met hulle boet. Hy bestraf m.a.w. die ander kwaaddoener, bely as’t ware sy geloof in Jesus Christus en vra daarna vir Jesus om hom as sondaar in genade aan te sien. “En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” (:42).
Die vraag waarvoor ek en u wat onsself as belydende gelowiges in Christus beskou vandag te staan kom is dus – Hoe lyk die getuienis van my lewe? Daar is soveel mense wat die soenverdienste gebruik om hul gewete te sus om ‘n lewe van ongebondenheid te leef. Daar is soveel mense wat ook net wil Christene wees omdat hulle getroos wil wees daaraan dat hulle darem ‘n god het om te mag aanroep wanneer teëspoed hul lewenspad kruis. Alhoewel die soenverdienste van Jesus Christus die wet van God vervul en ons dus van die straf van die wet vrygekoop het wat ons na regte moet ontvang, is dit geen vrybrief teen die sonde nie. Die prys wat betaal is vir ons verlossing was nie goedkoop nie en dus kom hierdie voorreg ook saam met ‘n verantwoordelikheid. 1 Kor. 6:19&20:”Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” Lewe ons soos mense in wie die Heilige Gees van God woon nadat ons Hom aanvaar het as ons Verlosser en Saligmaker wat die volle losprys vir ons betaal het?
Ons ontvang die opdrag om te leef soos mense in wie die Heilige Gees van God woon, dus moet ons ‘n lewe leef wat Hom sal behaag. Ons word vermaan om God met ons lewens te verheerlik in liggaam en gees, m.a.w. ons kan hom nie net in liggaam of net in gees dien nie. Wat sou dit my baat as ek oormatige hoeveelheid ure aan geestelike versorging, gebed en skrifstudie spandeer, maar niks van dit wat ek leer uit God se Woord is in my lewe sigbaar nie? Lewer ek dan enige noemenswaardige getuienis of is ek maar doodeenvoudig ‘n navorser van die Bybel? Die keersy is ook waar dat ek moeilik ‘n lewe met ‘n kragtige getuienis sal kan leef sonder ‘n grondige kennis van Hom wat ek sal verkry deur getroue Bybelstudie en gebed. Dit is dus van uiterste belang dat ons God in ons liggaam en in ons gees sal dien. Ek moet Hom in my liggaam dien en verheerlik deur ‘n lewe te leef wat ‘n sigbare getuienis sal lewer vir ander om te sien en Hom daardeur te verheerlik. Terselfdertyd moet ek daarop fokus om in my Skrifstudie en gebed Hom in gees te dien deur opreg en getrou te wees in my Godsdiens. Wat sou my geloof beteken as ek die mees voorbeeldige lewe leef terwyl my gesindheid nie suiwer is nie? Al sou ek al die kennis besit, maar ek het nie die liefde nie, sou dit my niks baat nie. . .
Ons leer weereens uit hierdie gedeelte dat die ware geloof in Jesus Christus voldoende is vir ‘n mens se redding. Daar is geen verdere vereiste van geloof plus enigiets nie.
Die ware geloof in Jesus Christus dring ons egter daartoe om ons lewens aan Hom te wy in alles wat ons doen. Die besef dat Hy die VOLLE losprys betaal het vir my laat my tot die besef kom dat ek niks noemenswaardig het om Hom te bied as dankoffer vir my verlossing nie.
‘n Lewe van toewyding aan Hom in liggaam en gees is voldoende, want hierdeur sal ek ook ander mense se lewens aanraak. Wie weet of iemand die getuienis van my lewe in oënskou neem en op ‘n stadium dalk op sy bors slaan en erken dat die Verlosser wie ek met my lewe verheerlik waarlik die Seun van God is?