Die laagtes waartoe joernalistiek in Suid-Afrika gedaal het, het duidelik nie ’n bodem of perke nie! Daarby wil ek ook sê dat die wyse waarop Afrikaanse joernaliste en die pers wat voorgee om die Afrikaner publiek te bedien met die waarheid omgaan, só skokkend is dat ’n mens daarvan gril!
Op bladsy vyf van Rapport se “nuus” blad, 29 Mei 2011, word ’n halfblad gewy onder drie suggestiewe opskrifte oor die moord op dr. Verwoerd. Die opskrifte is in die eerste plek aanduidend van wat Rapport in die gedagtes van die leser wil plant, naamlik dat dr. Verwoerd bloot deur ’n sielsieke vermoor is. Die opskrifte wat só opgestel is dat Rapport en sy liberale joernalis se bedenklike joernalistiek verdedig sou kon word, word beskerm met ’n vraagteken en die woordjie dalk, vir geval die waarheid uitkom.
Die opskrifte lui só: “Raaisel oplaas opgelos?” (in rooi letters). “Tsafendas lees artikel in Time, moor toe”. “Gedeelte oor Griek het dalk deurslag gegee”.
In ’n tyd waar die vyftigste bestaansjaar van die Republiek van Suid-Afrika herdenk word, is dit nie verbasend dat die liberale vyande van die Afrikanervolk, die aandag sal wil aftrek van die monumentale prestasie van een van die wêreld se grootste en briljantste politieke leiers, deur opnuut en by herhaling die leuen oor die moord op dr. Verwoerd, op kriptiese wyse in die gedagtes van mense probeer vestig nie!
Daar word selfs sydelings verwys na die retoriese(redekunstige) wyse waarop mnr. Jaap Marais destyds die vraag gestel het in vele van sy lesings, of die die Time uitgawe aanleidend tot die moord kon gewees het. Mnr. Marais se uiters goed beredeneerde argumente, gebaseer op feitlike gebeure wat ’n sterk aanduiding was van ’n Internasionale, goed beplande politieke sluipmoord, word gerieflik verswyg.
Waarom sou mev. Joan Leonhardt juis nóú die besondere Time tydskrif se betekenis onthou en nie op 6 September, die dag toe dr. Verwoerd vermoor was nie? Dit is betekenisvol dat selfs 45 jaar na die moord op dr. Verwoerd, daar steeds verbete gepoog word om die internasionaal beplande sluipmoord op dr. Verwoerd te versluier. ’n Moord wat sonder enige vrees vir teenspraak van binne die Nasionale Party moontlik gemaak is, as ’n blote moord deur ’n geestesversteurde in die gedagtes van mense gevestig probeer word deur ’n Afrikaanse koerant wat veronderstel is om Afrikanerbelange te beskerm en te verdedig volgens beskikbare feitlike gebeure.
Rapport verswyg doelbewus die feit dat in beide aanslae op dr. Verwoerd se lewe, nl. in 1960 op 9 April deur David Beresford Pratt en Dimitri Tsafendas op 6 September 1966, het daar voor elke aanslag berigte verskyn in Engelse koerante met die opskrif, “Verwoerd must go” In 1960 op 28 Maart, 12 dae voor David Pratt dr. Verwoerd twee maal in die gesig geskiet het en op 28 Augustus 1966, nege dae voor die sluipmoord van Tsafendas op dr. Verwoerd.
Verder word daar ook verswyg dat in beide gevalle die moordenaars as geestelik versteurdes bestempel is om die sameswering om dr. Verwoerd uit die weg te kry, te versluier! Dat die Time tydskrif van 26 Augustus 1966 waarskynlik die teken was aan Tsafendas, kan moeilik in die lig van al die tersaaklike feite, anders vertolk word.
Ek haal ’n paragraaf uit die boek, “DIE ERA VAN VERWOERD” van mnr. Jaap Marais aan ter verduideliking: Binne ses weke na die Internasionale Hof se uitspraak oor Suidwes-Afrika en minder as twee weke voor die sluipmoord, het die Amerikaanse tydskrif, Time, wat sterk bande met die Amerikaanse magsentrums het, ’n uitgawe uitgebring met ’n baie suggestiewe tekening van dr. Verwoerd op die buiteblad. Dr. Verwoerd se gesig, in ’n hooghartige houding, verskyn voor ’n veiligheidsheining. Die suggestie is dat Suid-Afrika feitlik ’n konsentrasiekamp sou wees. Fyn trekke is berekend toegevoeg aan die gesig om dit onaantreklik te maak. Binne die blad word ses volle bladsye aan Suid-Afrika gewy en een kant opskrif was: “Murder in the heart”. Die datum van die uitgawe was 26 Augustus 1966- elf dae vóór die sluipmoord op dr. Verwoerd.
Iets merkwaardigs in verband daarmee is dat die eksemplaar wat langs die normale weg in my besit gekom het, ’n baie interessante afwyking toon van ander eksemplare. Langs dr. Verwoerd se gesig, oor sy regter skouer en agter sy regteroor verby, verskyn in blougrys ’n voorwerp wat lyk soos ’n assegaai lem, met daarnaas twee los vlekke wat druppels bloed suggereer………
Wat hierdie uitgawe van Time baie betekenisvol maak, is dat die datum daarvan net twee dae voor The Sunday Tribune se berig: “Verwoerd must go, plan: Cape Nats back Anton Rupert” van 28 Augustus 1966 was, waarna vroeër verwys is. Dit is ’n sameloop van omstandighede wat merkwaardig en uiteraard agterdogwekkend is. (sluit die aanhaling.)
Waarom verswyg Rapport hierdie beskikbare inligting en verkies om steeds die indruk te probeer vestig dat die moord op dr. Verwoerd bloot ’n geestelik versteurde se opwelling van gemoed was?
In die outobiografie van dr. Allen Bird, BIRD ON THE WING, verwys dr. Bird na sy vennoot dr. Solly Jacobson, ’n Kommunis met uitsprake soos: “If Verwoerd goes on like this HE IS GOING TO GET A BULLET” en “ Verwoerd is a mad man and is draging the country to ruin”.
Ek haal aan uit dr. Bird se outobiografie bls. 207: “ When I finally got to sleep, I was abruptly awakened by the urgent ringing of the telephone next to my bed. It was Solly Jacobson. Hê was calling to tell me that one of his patients, David Pratt, had shot the Prime Minister………
The reason he was calling was because hê feared that the assailant, WHO had been taken to the Police Forensic Laboratory for examination, might be undergoing physical torture to extract from him why hê had carried out the deed”.
Op bladsy 214 van dr. Bird se biografie verwys hy na ’n gesprek wat hy met brigadier Johan Coetzee, hoof van die veiligheidspolisie gehad het. Dr. Bird het in ’n vorige onderhoud met Genl. Hendrik vd. Bergh, Jacobson wat intussen Engeland toe gevlug het se betrokkenheid by Pratt bespreek. Dit was opgeteken in sy lêer wat in besit van brig. Coetzee was. Brig. Coetzee het aan dr. Bird bevestig dat Jacobson ook Tsafendas se dokter was in Brighton Engeland.
As daar nou verder gelet word op die wyse waarop Tsafendas die land binnegekom het nadat toegang verskeie kere aan hom geweier was en hoe hy die pos as bode binne die parlementsgebou gekry het terwyl ons veiligheidsmagte bewus was van sy assosiasie met Jacobson, gaan dit ’n mens se verstand te bowe dat Jan –Jan Joubert en Rapport met hulle besoedeling van die werklikheid en waarheid, Afrikaanse lesers se intelligensie op dieselfde vlak as hulle eie be-oordeel! Hulle kontamineer nie net die joernalistiek nie maar ook die geskiedenis wat rigtinggewend moet wees vir ons nageslag wat daaruit die rigting vir die toekoms moet bepaal!