Spreuke 3:1-33
“Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,” (:3)
Ons kyk vandag na ‘n eienskap wat nog by baie min mense in die moderne samelewing te bespeur is, maar wat ontsettend welbehaaglik is voor God se aangesig. Die eienskap waarna ons gaan kyk, loop hand-aan-hand met liefde – wel, met opregte liefde. Hierdie eienskap is om getrou te wees en trou te bly.
Dit is nie alleen die Woord van God nie, maar ook die hele geskiedenis van die aarde wat getuig van die getrouheid van God. Ons dink byvoorbeeld daaraan dat God in trou elke dag die daeraad ontbied ten spyte van die wêreldbewoners se Goddelose lewenswandel. Ons onthou hoedat God duisende jare gelede vir Abraham beloof het om sy nageslag te maak soos die sterre van die hemel en die sand wat aan die seestrand is en ons huidige geslag kan getuig van Sy trou in hierdie verband. Ons onthou hoedat God duisende jare gelede vir Noag beloof het om nooit weer die aarde met ‘n vloedwater te oordek en te verwoes nie en sedertdien is daar nog nooit weer ‘n soortgelyke gebeurtenis in die geskiedenisboeke aangeteken nie.
Ons dink op eie bodem terug in ons volksgeskiedenis hoedat God in 1838 vir ‘n geringe volkie beloof het dat Hy vir hulle ‘n God sou wees en hulle derhalwe nie die toekoms hoef te vrees nie, aangesien Hy getrou aan ons sou wees. Ons voel skaam oor Sy goedertierenheid en trou wanneer ons in retrospek na die geskiedenis van ons Afrikanervolk kyk en besef tot watter hoë hoogtes God Drie-Enig ons gelei het. Ons laat ons kop sak in skaamte wanneer ons dink aan die trouelose munte waarin ons Hom terugbetaal het vir Sy goedertierenheid aan ons bewys. . .
Die eienskap van getrouheid is een wat ons as mense daadwerklik behoort na te streef. Ons God en Konning, Jesus Christus, was vir ons die toonbeeld van getrouheid – getrou tot die mees vernederende dood toe. Hy was getrou aan Sy roeping, getrou aan Homself, getrou aan God.
Die satan besef alte goed dat getrouheid baie welbehaaglik is voor God, juis omdat dit vernietigingswerk en verwoesting baie moeilik maak. Aangesien die satan wil verwoes en vernietig, wil hy graag hê dat mense ontrou moet wees. Ons gebruik alledaagse, praktiese voorbeelde om laasgenoemde stelling te verduidelik. Die gevolge van ‘n ontroue huweliksmaat, is dat ‘n huwelik en ‘n gesin uitmekaargeskeur en vernietig word. Die gevolge van ontroue werkerskorps, is die vernietiging van ‘n onderneming en moontlike werksgeleenthede vir mense. Die gevolge van ‘n ontroue regering is ‘n samelewing wat in verwarring en vrees rondtas en die-een-die-ander verteer in ‘n eindelose strewe na standvastigheid.
Die aanslag op ons volk as ‘n Godvresende en Christelike volk wat standvastigheid en orde kan skep en handhaaf, is ontsettend fel. Hierdie aanslag word gevoer uit verskeie oorde en die satansmagte werp alles in die stryd om die Christendom hier ter plaatse die laaste vernietigende nekslag te gee. Die fondasies van hierdie huis wat ons as volk onderneem het om vir God op te rig en te bou, lê in puin en die skerwe van verbrokkelde gesinne, werklose mense, vernietigde kerke en gemeentes is tussen die uitmekaargetrekte skole en verskroeide kultuurerfenis van die Afrikaner op die ashoop gegooi om plek te maak vir die wêreldse standaarde. Die “glorieryke Hollywood” het die plek en tyd van die huisaltaar en huisgodsdiens kom inneem. Die ure se rondkarwei van die een sportbyeenkoms na die volgende het al die tyd in beslag kom neem waarin die kinders hul volkskultuur en volksherkoms moes vaslê en dan kerm ons oor ‘n verwarde en identiteitlose jeug. Die onregverdige Mammon het die vrede uit mense se harte kom roof en veroorsaak dat baie ouers hul kinders in rand-en-sent probeer vergoed vir die leemte wat hulle in hul lewens laat wanneer daar gejaag word na geld van die more tot die aand.
Ek is seker dat die satan juig oor hierdie eens glorieryke volkshuishouding wat pal gestaan het vir die Christendom en die behoud van die Evangelie van vrede in die wêreld. Sy vreugde is egter steeds nie volmaak terwyl daar ‘n Gideonsbende dapperes en getroues is wat weier om die knie te buig voor die afgodsgedrogte van hierdie wêreld nie. Sy bekommernis is groot solank as wat God, deur Sy genade, vir Homself ‘n oorblyfsel staande hou wat verbete veg en al helderder skyn in ‘n land waar die duisternis met alle mag probeer om die lig te oorweldig. Ek is seker die satan raak eindeloos gefrustreerd wanneer God vir Hom getroue diensknegte roep om te herstel en te bou, daar waar die satan gebreek en verwoes het.
Ek wil vandag ‘n wekroep rig aan elke gelowige volksgenoot om getrou te bly as Afrikaner. Dit is van onskatbare belang dat ons sal onthou om trou te bly aan ons roeping as Sy volk om Sy deugde te verkondig, al is die prys ook hoe groot. Dit is belangrik dat ons die woorde van 1 Joh. 2:15-17 ter harte sal neem in hierdie stryd: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Opregte kind van God – BLY GETROU:
Getrou aan jouself
Getrou aan jou volk
Getrou aan die eise van God se Woord, maar bo alles
Getrou aan God,
want Hy was om ons ontwil, getrou tot die dood!