1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8333672

Besoekers aanlyn

Ons het 78 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

WAAR PAS HY IN MY LEWE IN?

BybelLukas 2:1-7

“en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” (:7)

Hy moes Sy oë oopmaak in ‘n wêreld waar daar geen plek vir Hom was nie.  Ons leer in Génesis vir God ken waar Hy deur die Woord, Jesus Christus, alle dinge geskape het.  Die heelal het dus deur Hom ontstaan en ons weet dat geen ding wat ontstaan het, of wat stand hou, sonder Hom ontstaan het of standhou nie.  Daar is m.a.w. geen lewende organisme op hierdie aarde wat die gawe van lewe nie aan Hom te danke het nie.  Die besluit wat in Génesis gemaak is, is egter ‘n besluit wat die mens vandag steeds moet maak – kies ek vir Hom of teen Hom.  In die Paradys het die listige Satan vyandskap teen God veroorsaak en daardie stryd sal voortduur tot met die voleinding van die wêreld op God se bevel.  Dit is egter noodwendig ‘n vereiste dat ‘n mens sal kies of jy in onderdanigheid aan Hom sal wil leef as Sy kind, en of jy in vyandskap sal probeer wegkom van God af en gedurigdeur probeer om Sy bande van jou af te ruk om “vry te kom” van Sy verordeninge.  (Verw. na Ps. 2).

 

Die Satan wag telkens om plekke aan te val waar mense gehoor gee aan God se roepstem om hulself aan Sy gesag te onderwerp.  Wanneer mense laasgenoemde doen, is die gevolge daarvan ‘n vredevolle samelewing waarin mense die son oor mekaar sien skyn en elkeen sy persoonlike verantwoordelikheid op sy lewensterrein nakom.  Dit word veroorsaak deur die feit dat elke mens besef dat hy sy lewe as ‘n gawe van God ontvang het en die verantwoordelikheid het om te lewe en nie bloot te bestaan nie.  ‘n Mens besef dat rykdom, verstand, kinders, familie en al die ander mooi dinge gawes is wat jy uit God se Hand ontvang het omdat Hy dit alles geskape het en dat jy dit met goeie oorleg en liefdevol daaroor moet toesien. 

God het die ellende gesien wat die sonde aan die mensdom aanrig en uit liefde besluit om Sy Seun na die aarde te stuur om in te gryp in hierdie ellende.  ‘n Mens wonder soms hoeveel anders die lewe nie sou wees indien die wêreld Hom erken en aanvaar het as die Hoof oor alle dinge i.p.v. om Hom aan ‘n kruishout op te hang?  Hy het Sy lewe daaraan gewy om aan mense goed te doen tydens Sy lewe op aarde en het alles wat Hy gehad het gegee om hierdie gebroke wêreld te herstel.  Hy het selfs Sy lewe afgelê in gehoorsaamheid aan God om daardeur voor God aanvaar te word as Middelaar vir die sondige wêreld.  Dit is duidelik uit Jesus Christus se lewenswandel dat ‘n perfekte staatkundige bestel op aarde in der ewigheid onder menslike invloed nooit opgerig sal kan word nie.  Die sondige invloed en menslike sondige natuur is heeltemal te groot daarvoor.  Dit beteken egter nie dat daar nie enige plek is vir God se Koninkryk hier op aarde net omdat die mensdom Hom nie verwelkom hier benede nie.  Dit beteken nie dat dit ‘n sonde is om te strewe daarna om jou lewe in toewyding aan Hom te leef nie, hetsy in jou gesin, jou werk en selfs die politieke strewes wat jy koester; inteendeel, dit is hoe dit behoort te wees vir gelowiges.

 

Ons bly in ‘n land waar dit menigmaal vir ‘n mens voel asof hier geen plek meer vir jou is nie.  Dit voel asof die wêreld jou toenemend hard behandel, hoe meer jy streef na ‘n rein en vlekkelose lewenswandel voor God.  Dit voel asof die goddelose al die goeie dinge geniet sonder om oor enigiets te bekommer, terwyl die Godvresende kinders van God hul bekommer oor die verderf waarheen die samelewing afstuur.  Die magtelose frustrasie wil ‘n mens soms tot raserny dryf, maar dan is dit noodsaaklik om weer te berus in die wete dat die stryd alreeds oorwin is.  Dit beteken nie dat ons op ons louere moet rus tot met die wederkoms nie, want die stryd wat in Génesis begin is, sal voortduur tot en met die voleinding van die wêreld, maar ons moet heldhaftig stry in die wete dat selfs die dood ons nie kan oorweldig en oorwin nie.

Die vraag waarvoor elkeen van ons vandag te staan kom, is natuurlik of daar nog ‘n plek vir Hom in my en u lewe is?  ‘n Mens sou verwag dat die Koning van die heelal immers in ‘n paleis omring met weelde gebore sou word, maar allermins was dit die geval.  Daar was vir Hom niks beters as ‘n krip waarin Hy neergelê kon word nie.  ‘n Mens sou dienooreenkomstig verwag dat onder ‘n Godvresende volk, soos die Afrikanervolk, daar vir Hom die hoogste agting in mense se lewens en harte sou wees, maar ek dink ons sal leuenaars wees as ons verkondig dat laasgenoemde die geval is.  Ek is nie deur God aangestel as ‘n regter oor die Afrikanervolk om te veroordeel nie, maar wanneer ek in beskeidenheid en met opregte sorg na ons volkslewe kyk en my hart uitgaan na volksgenote wat Hom mis, sien ek dat daar in soveel lewens nie plek is vir Hom nie.  Hy moet maar kyk of daar tussen die gejaag na geld, die partytjies, die sport, televisie, rekenaarspeletjies en die vriende dalk nog iewers ‘n plekkie vir Hom is. . . Ek verwag Sy seën in my lewe, maar wil my nie aan Sy gesag onderwerp nie?  Ons moet indringend besef dat hoe minder plek daar vir Hom in my lewe is, hoe meer plek is daar vir Satan met allerhande afgodediens wat smart en ellende in menigte sal aanrig.  Die eerste ding wat die Satan sal steel, is vrede en daarna sal hy verwoesting aanrig totdat jy soos ‘n lopende lyk net ‘n bestaan voer, maar nie meer lewe nie, want jy het dan self gekies dat daar nie plek is vir die Lewe in jou hart nie. . .

Die Bybel is allermins ‘n stel vol duisende reëls wat ‘n mens in der ewigheid nie sal kan nakom nie.  Die Bybel is die Woord van God wat vir ons moet rig en lei gedurende ons lewens.  Dit is nie ‘n towerstaf waarmee ek alle hartseer wegvee en alle probleme afvee nie, maar ‘n onfeilbare riglyn om jou te ondersteun in hartseer, leer om beproewing en lyding te deurstaan.  Dit Woord is ‘n onuitputbare bron van krag en wysheid wat jou bewaar teen verkeerde lewenswandel en lewensterreine waar die Satan geil verwoesting saai.  Die Woord is gegee in liefde aan die mens, maar soos enige mens se saligheid, word dit op niemand afgedwing nie.  Dit is ongelukkig net diegene wat die waarde van die Woord ontdek het, wat weet hoe arm is diegene wat daarsonder probeer leef.

As jy dalk voel asof jou lewe so deurmekaar en uitmekaargeskeur is en daar nooit weer orde en herstel daarin moontlik is nie, is dit baie raadsaam om die Skepper van u liggaam te nader om raad.  Dit sou raadsaam wees om op te hou wegvlug van Hom, maar eerder u skuld voor Hom te bely en om vergifnis te vra.  Dit sou baie voordelig wees om Hom die ereplek in u lewe te gee wat Hy graag wil inneem(1 Kor. 3:16:  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”), want dan kan Hy as die Hoof van u lewe ook vanaf die troon van u hart op ‘n punt begin om orde te skep, om te herstel om u weer te laat leef.  Die feit dat Hy dalk nie na u kom in die glorie en toestand waarmee u dit verwag nie, beteken nie dat Hy nie wel by u hart se deur staan en klop nie.  Die keuse lê egter by elke individu persoonlik of ek aan Hom die ereplek wil skenk in my lewe, en of daar ook nie in my lewe tyd en plek is vir Hom nie.  ‘n Toegewyde lewe aan Hom lyk dalk vir my nie so roemryk soos wat ek verwag die lewe van ‘n Koningskind moet wees nie en daarom verbeur jy dalk jou erfdeel in Sy ewige Koninkryk?

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie