Kol. 1:3-23
“sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,” (:10)
“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;”(:21&22).
Ek wonder vir hoeveel mense is dit nog belangrik om hulself waardiglik voor die Here te gedra – oftewel waardiglik voor Hom te wandel? Mense mat hulself af om te ywer om groter besighede te bou, die nuutste motors aan te skaf en kinders te dryf om die hoogste prestasies te behaal sodat hul tog goed kan vertoon voor ander mense. Dit is juis hierdie gesindheid wat mense van ‘n gerusstellende vrede ontneem en veroorsaak dat mense verstrik raak in die najaag van die begeerlikhede van die vlees terwyl die geestelike lewe feitlik doodgaan.
Mense verstaan dan nie waarom hulle alles besit wat ‘n mens kan begeer en steeds nie gelukkig is nie. Die rede is dat jy al die vleeslike begeerlike kan bevredig, maar nie geluk sal vind nie, aangesien geluk voortkom uit die siel, die geestelike binneste van ‘n mens. Dit is daarom met goeie reg dat God se Woord ons leer dat dit jou niks sal baat om selfs die hele wêreld te win, maar aan jou siel skade te ly nie.
Ek sê nie dat dit verkeerd is om te streef daarna om die beste te wees in dit wat God jou geroep het om te wees nie. Dit is noodsaaklik en ook ons verantwoordelikheid om te probeer om in elke rol wat in ons lewens aan ons gegee is, uit te munt. Daar is egter meer as een rol aan ons gegee en in ‘n dinamiese samelewing is dit moeilik om die balans te behou om in alles jou allerbeste te gee. Daar is die verantwoordelikheid om ‘n goeie vader/moeder te wees, ‘n goeie man/vrou, ‘n goeie bestuurder by die werk en dan dalk ook nog ‘n goeie vriend(in) in my vriendekring.
Die massamedia het ‘n ontstellende groot invloed op die meningsvorming van soveel mense en hierdeur word mense beïnvloed om dinge na te streef wat hulle nie hoef te wees nie. Dit is van uiterste belang dat ons as Godvresende mense baie versigtig sal wees om dinge na te streef wat sosiaal-aanvaarbaar is, maar nie in God se Woord vir ons aanbeveel word nie. Dit kan selfs wees dat God se Woord ons waarsku hierteen, maar ons reken dat dit belangriker is om in guns by mense te wees en omdat “tye verander” het, sal God se raad mos nie meer heeltemal van toepassing wees nie?
Daar is soveel mense wat voel dat hulle doodeenvoudig net nie meer kan voorgee om kop bo water te hou in ‘n samelewing wat besig is om weg te sink in sy eie ongeregtigheid nie. Die antwoord op oorlewing is om te kyk na Hom wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is. Hy het alle dinge geskape en ons hoofdoel is om Hom te behaag en nie die samelewing rondom ons nie. Dit is nie nodig dat ons probeer voldoen aan die “kunsmatige standaarde” wat die media en die skynheilige “Hollywood” vir ons daarstel nie. Laasgenoemde is uit die aard van die saak ‘n baie minderwaardige standaard gemeet aan God se standaarde. Die wêreld stel baie lae standaarde waaraan ‘n mens maklik kan voldoen, nl. selfsug, sedeloosheid, liefdeloosheid, onreinheid en hoererye. Dit is dan ook geen wonder dat laasgenoemde se loon depressie, gebroke huwelike, eensaamheid, hartseer en gebrokenheid is nie. Hierdie lae standaarde sal jou die vrede met jou Skepper ontneem en veroorsaak dat jy in vyandskap met Hom leef. “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen.” (:21).
Die volmaakte losprys is egter deur Jesus Christus betaal vir elke sondaar wat tot ware geloof in Hom kom en nie langer onder die slawerny van sonde wil leef nie. Hy bied vir u gratis vryheid aan en daarmee saam ‘n riglyn in Sy Woord om u te help om na die hoogste standaard lewe te streef waarin u nie meer ‘n slaaf van die sonde sal wees nie, maar die sonder met u hele wese sal beveg om die vryheid in Christus as die hoogste skat te bewaar!
As ons opnuut besef dat ons verantwoordelikheid is om Hom – deur Wie en tot Wie alle dinge geskape is - te behaag en dat alle dinge in Hom standhou, sal ons dalk opnuut ons verantwoordelikheid in ons Vaderland besef om ‘n samelewing wat uitmekaar val, te probeer herstel. Dit sal ons dalk opnuut tot die besef bring waarvoor God ons as ‘n volk aan die Suidpunt van Afrika geplant het en sal ons dalk dryf om die goddelose wêreld rondom voor stok te kry en die lae en verfoeilike standaard wat gestel en aanvaar word, aan te spreek en teë te staan. Dit kan tot gevolg hê dat die heiligdom wat ons as Afrikanervolk beloof het om vir Hom te bou in 1838, dalk weer tot eer herstel word volgens die riglyn van Sy Woord.
Die vraag is of ons wat Sy kinders is, daarna streef om die wêreld te behaag en of ons daarna streef om heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te verskyn? Ons sal moet besef dat ons vryheidstrewe ‘n roeping is om op te tree as kinders van God om te waak en te heers oor die werke van Sy Hande om Hom daardeur te verheerlik en dat dit nie ‘n geveinsde vryheidsug is waarin God se Naam maar net gerieflikheidshalwe gebruik word omdat Hy maar telkens die een was wat gered het in die verlede en dit doodeenvoudig weer moet doen nie.
As ons gesindheid teenoor Hom nog nie is dat ons Sy heiligdom wil herstel omdat ons vir Hom diensbaar wil wees nie, is ons nog nie opreg en suiwer nie. As ons gesindheid is dat ons die hoof van hierdie heiligdom sal wees, maar sal kan doen met Sy hulp, is ons nog nie onberispelik voor Hom nie en is daar nog baie werk en selfondersoek te doen.
Wanneer ons egter erken dat Hy die Hoof en Heer oor alles is, oor ons lewens, ons gesinne, ons volk en ons land, kan ons onsself dalk eersdaags voor Hom stel en in ootmoed voor Hom kniel met die bede:
“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23&24).