Romeine 8:1-17
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” (:14)
Ons moet mooi verstaan dat Jesus Christus se kruisdood die vervulling van die wet van God was en nie die vernietiging daarvan nie. Hy het vlekkeloos Sy lewe neergelê en hierdie volmaakte offer van Sy Soenbloed was die volle koopsom om al Sy kinders van die mag van die dood los te koop. Hierdie dure prys wat betaal is vir ons vryheid, mag dus nooit goedkoop gemaak word om misbruik te word om ‘n lewe van losbandigheid te lei nie.
Wanneer ons die omvang van die losprys begryp wat Jesus Christus vir elke ware gelowige betaal het, is ons veronderstel om ‘n lewe van ootmoed voor God te leef uit dankbaarheid vir Sy genade. Dit beteken dat ek uit dankbaarheid ‘n lewe sal nastreef waar ek in vryheid die sonde beveg en nie vry is om ‘n lewe van losbandigheid te leef waarin ek die sonde omhels nie. God het juis die vernietigende impak van sonde op die mens se lewe besef en daarom vir ons wette gegee om te onderhou om ons daarteen te beskerm.
Hy wil nie hê dat ons in slawerny aan die sonde verkneg moet word wat ons die lewe sal ontneem nie. Vryheid is ‘n baie kosbare geskenk, maar vryheid moet ook verdedig word. Geloof in Jesus Christus beteken dat die sonde my nie kan bind met ‘n sterker band as wat Hy kan losmaak nie, maar dit beteken geensins dat die Satan nie sy bes gaan probeer om my aan te val en te oorrompel nie.
‘n Ware gelowige onderwerp homself aan God en Sy Wet omdat hy besef dat dit deur God tot sy beswil vir hom gegee is om te onderhou. Hy streef deurgaans daarna om God met ‘n gesindheid van dankbaarheid en ootmoed te behaag deur die wet na te kom omdat hy dit graag wil doen en nie uit vreesagtigheid nie. Daar is soveel dwaalleraars wat reken dat mense te danke aan die soenoffer van Jesus Christus ‘n roekelose lewe van losbandigheid kan lei. Hierdie dwaalgeeste sal alles in die stryd werp om die wet van God tot niet te maak. Hulle verstaan nie dat God se wet uit liefde vir Sy kinders gegee is om hulle van die skadelike gevolge van sonde te beskerm nie. ‘n Ware gelowige sal dus nie die wet van God probeer weerstaan nie, maar homself eerder probeer verlustig om dit na te kom in die besef dat laasgenoemde tot sy beswil is.
‘n Ware gelowige sal besef dat Jesus Christus die stryd teen die sonde as eersgeborene van God wat uit die dode opgewek is, gewen het, maar dat die stryd steeds nie verby is voor die voleinding en wederkoms van onse Here Jesus Christus nie. Dit beteken dat ‘n gelowige nie die wet hoef te onderhou om die erfenis te ontvang nie, maar juis uit dankbaarheid en as ‘n mede-erfgenaam die stryd wil voortsit. Dit beteken dat elke gelowige hier op aarde steeds ‘n stryd het om te stry – die stryd in die Gees. Die stryd teen sonde!
Ons lees in Kol. 3:5-10 dat ons die sonde in ons lewens daadwerklik moet aanval en vernietig. “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,” Dit beteken natuurlik dat ons die sonde in ons lewens moet erken, bely en beveg om dit te laat staan. Dit sal geensins help om soos die dwaalleraars te probeer om die Woord van God te manipuleer om verkeerde lewenswandel soos homoseksualiteit te probeer regverdig of goedpraat nie. Laasgenoemde sal jou ‘n slaaf van die sondige menslike natuur maak en jou boonop die ewige saligheid kan ontneem. Die prys van sonde was nog altyd ‘n bitter dure prys om te betaal. Daar was net een volmaakte losprys en hierdie kosbare geskenk mag nooit deur ‘n ware gelowige goedkoop gemaak word nie.
Die beste manier om te volhard op die pad van heiligmaking waarin die sonde in jou lewe beveg word, is natuurlik om terselfdertyd ‘n welgevallige lewenswandel na te streef. ‘n Gelowige moet daarna streef om sy lewe en karakter met soveel goeie en God-welgevallige eienskappe te vul dat daar al minder plek vir die sondige en verkeerde in sy lewe sal oorbly. Die werke wat God graag in ons lewens te voorskyn wil sien, is natuurlik daardie vrug van die Gees waarvan ons lees in Galasiërs 5:22:”Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Ons lewe in ‘n land, ‘n samelewing en ‘n wêreld waar mense nie die waarheid van God se Woord wil hoor nie en daarom is mense gebonde in kerkers en vasgevang in die gevangenis van die satan (die sonde). Mag ons wat volgelinge en kinders van God hier op aarde is ‘n lewe leef waarin ons daadwerklik vir ons Vader diensbaar sal wees in die uitbreiding van Sy hemelse koninkryk en om nie te skroom om die waarheid te praat nie, want die waarheid maak vry! Die waarheid sal tot gevolg hê dat mense sal erken dat hul in gevangenisskap leef en bevryding nodig het.
Ons eie Vaderland is dodelik siek aan die ellendige en sondige samelewing wat oor ons land en volk gespoel het. Mense het geluister na die verloklike stem van satan agter die wêreldse begeerlikhede aan en ons standvastige vryheid onder die beskerming van God se wette en insettinge verruil vir die begeerlikhede van die wêreld wat ons volk nou in slawerny aan die sonde onderwerp het. Dit veroorsaak dat ons volk besig is om weg te sink in die ellende van sedelike verval, armoede en ‘n baie ellendige toestand. God kon ‘n klein groepie mense gebruik om die lig van die evangelie na Afrika te bring. Mag dit Hom behaag om weereens ‘n oorblyfsel te gebruik om die herstel en genesing in ons Vaderland teweeg te bring – om weer die lig wat in ons elkeen moet skyn, aan die brand te steek om die duisternis te verdryf.
Die besef dat ons vleeslike begeertes die afgelope paar dekades ons van meer as net staatkundige vryheid ontneem het, sal dalk die oplossing vir die genesing van ons land en volk baie meer duidelik na vore bring, nl. dat die genesing van die opsigtelike (vleeslike) sal kom wanneer ons die sake in die Gees aanspreek. Dit sal ons dalk laat besef dat ons ook ‘n verantwoordelikheid het om te begin aandag skenk aan die ellendige toestand van alles rondom ons. . . Dit sal ons dalk laat besef dat dit ‘n skande is om net aan ons eie huise te bou terwyl die huis wat ons as Sy volk vir Hom gestig het uitmekaar geruk en geplunder word.