Génesis 3:1-24
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (:15)
Wanneer ons die Woord van God noukeurig bestudeer en hierdie gedeelte lees, besef ons dat hierdie eerste belofte wat gemaak is, steeds vandag op die mensdom van toepassing is. Daar is steeds vandag vyandskap tussen die mens en die sonde (oftewel satan) en die hartverskeurende werklikheid is dat baie mense die tweede gedeelte van die belofte heeltemal mis lees. “Hý sal jou die kop vermorsel”, wat beteken dat God die mens die mag gegee het om die sonde in sy lewe te oorwin. Ek sê nie dat enige mens by vermoë is om uit homself ‘n heilige lewe te leef waardeur hy die koninkryk van God kan beërwe nie, allermins! Ek wil u herinner daaraan dat God daar alreeds geweet het dat Hy die Oorwinnaar oor die sonde is en deur ons geloof in Jesus Christus kan ons afsien van die sonde en die verkeerde in ons lewens omdat ons uit dankbaarheid en liefde aan Hom gehoorsaam wil wees.
Dit is hartseer om te sien hoeveel mense nie die stryd teen die sonde voortsit nie, aangesien hulle hulself oorgee daaraan in tye waarin die aanslae van die satan uiters fel is. Dronkenskap, hoererye, brassery, bedrog, leuens, sedeloosheid en dies meer is dinge waaraan mense hulself oorgee, want almal doen dit tog. Is die weg na die verderf nie ‘n breë weg terwyl die weg na saligheid ‘n smal paadjie is wat deur enkeles gevind word nie? Beveel Christus ons nie om HARD TE STRY om die koninkryk te beërwe nie? Luk. 13:24:”Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” Dit is baie verkeerd van ons as ware gelowiges om mismoedig op hierdie smal paadjie voort te beur en ons lot te beklae, want ons het groot rede tot vreugde op hierdie smal weg, hoe hard en moeilik dit ookal soms vir ons mag wees. Wanneer hierdie pad vir ons te lank raak en die struikelblokke te veel raak, moet ons ons oë verwyder van die onmiddellike probleme rondom ons en vir ‘n slag net ons oë ophef na ons Leidsman en ons eindbestemming wat dan weer vir ons die moed sal gee om verder te vorder met ‘n lied in ons harte!
Ons lees in hierdie gedeelte in Génesis van God se groot ontferming en genade wanneer Hy nie sondermeer die mens verdelg weens sy ongehoorsaamheid nie, maar na die mens gaan soek. Hy roep na die mens soos wat ‘n vader na sy kind sal roep wanneer hy bekommerd is oor hom. “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?” (:9) Die mens besef dat hy skuldig staan teenoor God en dat hy ongehoorsaam was. Ons is vandag ook steeds geneig om vir God te probeer wegkruip wanneer ons verkeerd handel en dit is ook omdat ons skaam is. Dit veroorsaak dat ons nie meer wil bid en Bybel lees nie, want ons is skaam om tot God te nader, aangesien ons weet dat ons aan Hom ongehoorsaam was en Hom dalk teleurgestel het. Dit beteken nie dat God u naak sal laat om te vergaan in die ellende van die sonde nie. Hy sal na u kom soek, soos wat Hy na Adam en Eva gaan soek het in die tuin van Eden om die saak met u uit te klaar. Antwoord Hom wanneer Hy na u roep, al is dit met ‘n bewerige en skaam stemmetjie!
Ons besef alte goed dat ons verkeerde optrede menigmaal vir ons hartseer gevolge inhou, maar om van God te probeer wegkruip, gaan ons nie van die gevolge van ons verkeerde dade kwytskeld nie. Hy sit ook nie en wag dat ons verkeerd doen om alles noukeurig op te skryf en straf uit te deel nie, maar om ons te hulp te kom wanneer ons verdwaal het. Hy het reeds die mag van sonde vir ewig oorwin deur die volmaakte offer van Jesus Christus aan die kruis en wil hê dat ons uit hierdie krag wat Hy aan ons geskenk het as oorwinnaars oor die sonde sal leef. Ons moenie redes soek oor waarom ons die sonde moet verdra in ons lewens nie, ons moenie verskonings soek waarom ons nie die sonde kan oorwin nie, want al hierdie verskonings sal veroorsaak dat ons dalk die Rede van ons bestaan mis. . .
Waarom wil ons naak, skaam en verdwaald rondsukkel hier op aarde wanneer ons beklee kan word met ‘n koningskleed wat ons prinse sal maak van die Allerhoogste? Rom. 13:14:”Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” Ons moet egter onthou dat laasgenoemde stelling (wat goed op die oor val) ook verantwoordelikheid inhou om soos prinse te leef. As kinders van die Koning van alle konings wat selfs die mag van sonde oorwin het, het ons daarmee saam die verantwoordelikheid om Sy stryd op aarde teen die sonde voort te sit en ‘n lewe van reg en geregtigheid na te streef, want laasgenoemde is die grondslag van Sy troon. Ps. 97:2:”…geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.”