Génesis 6:1-22
Vers 5 – 6: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mense op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.”
Soms voel dit vir ons asof ons ook die laaste regverdige mense op aarde is en alleen probeer om te doen wat reg is voor God se oë terwyl die hele wêreld in boosheid en goddeloosheid verval. Wanneer ons so ver terug gaan as maar die sesde hoofstuk in die Woord van God, dan lees ons van ‘n man wat goeie reg gehad het om net so te voel soos die emosie wat hierbo beskryf is, want hy was inderdaad die enigste regverdige onder sy tydgenote wat genade in God se oë gevind het. Skielik voel ek en u nie meer heeltemal só regverdig soos wat ons aanvanklik gevoel het nie, want ons wonder of ons die geloofsgehoorsaamheid van Noag sou gehad het?
Ons word in hierdie twee verse opnuut weer herinner aan twee baie belangrike eienskappe van God, nl. dat Sy oë die aarde en die mense se harte deurgaans deursoek en ook dat die onreg en boosheid smart in Sy hart veroorsaak. Die vraag waarvoor ek en u vandag te staan kom is natuurlik wat Hy sal vind wanneer Hy ons harte deursoek vandag. Wat is die versinsels van my en u hart soos wat ons huidiglik voor Hom staan? Is daar dinge wat ons bedink, beplan en selfs soms in die stilligheid doen, wat smart in Sy hart sal veroorsaak?
Niemand van ons is hier op aarde sonder sonde en onreg nie. Sonde is deel van die menslike natuur en ons moet in stryd met die sonde leef tot die dag van ons dood. Dit is egter onmoontlik om teen die sonde te stry, wanneer ‘n mens dit nie erken in jou lewe nie. Wanneer jy te trots is om te erken dat jy verkeerd is, sal jy ‘n valse lewe begin leef waarin jy jouself bedrieg en sal jy die sonde en verkeerde in jou lewe aanvaar i.p.v. beveg. Die sonde sal in jou lewe toeneem, die versinsels van jou hart sal toenemend versleg en jy sal presies die teenoorgestelde van ‘n regverdige en opregte mens word. Jy sal deel word van die groep waarna God kyk en met smart in Sy hart berou kry oor die bedorwe toestand van jou hart.
Vers 9: “… Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Nog het met God gewandel.” Om met God te wandel, beteken om te erken dat my hele lewe oop is voor Sy oë – self my swarte sonde en diepste hartseer asook diepste hartsbegeertes. Dit beteken dat ek nie probeer om dinge vir God te verberg nie, maar dit juis in gebed na Hom neem om Hom daarin te ken, dit aan Hom te openbaar om te erken dat dinge verkeerd is en dat ek Hom nodig het om hulp en verlossing! Dit is om in nederigheid bewus te wees van jou algehele afhanklikheid van Hom en om in opregtheid voor Hom te leef. Indien ek laasgenoemde nastreef in my lewe, sal ek al meer regverdig word, want Hy vergeef ons ons sondes wanneer ons dit voor Hom bely. Hy sal op ons versoek ons ook vrymaak van die las daarvan, want Hy het immers Sy geliefde Seun, Jesus Christus, na die aarde gestuur om ons vry te koop van die sonde en Hy wil nie hê dat ons diensknegte daarvan moet wees nie!
In ‘n wêreld wat toenemend van God en Sy gebooie afdwaal, is dit maklik om in die maalkolk van goddeloosheid gevang te word. Dit voel so maklik vir ons asof die boosheid só groot is dat dit die oorhand kry en enige stryd daarteen is ‘n hopelose stryd. Hoe hartseer is hierdie redenasie nie, want hoe maklik vergeet ons dat die oorwinning alreeds deur Christus bewerkstellig is en dat ons die verantwoordelikheid het om in dankbaarheid vir hierdie oorwinning, die stryd teen die goddeloosheid, boosheid en verkeerde voort te sit. Dit is nie ‘n stryd waarin ons stry om iets te kan verdien van God nie – Hy het alreeds vir ons meer as ons regverdige deel gegee!
Toe God na die aarde kyk in die tyd van Noag, was daar smart in Sy hart oor die mensdom en meerderheid se boosheid. Toe Hy na Noag kyk, sien Hy tog ‘n klein vonkie van hoop. Wanneer God vandag na die wêreld kyk, sal ons kan saamstem dat daar groot smart in Sy hart is, maar die eintlike vraag vanoggend is – Wanneer Hy na Sy volk aan die Suidpunt van Afrika kyk, wanneer Hy na My en u lewe vanoggend kyk en diep in ons harte kyk, wat sal Hy sien? Sal daar ‘n glinstering van hoop wees, hoe gering ookal; of sal daar smart in Sy hart wees oor wat Hy sien?
Noag het die opdrag gekry om die ark te bou ten einde die mensdom te red van algehele uitwissing. Ons kry dalk vandag die opdrag om ons eie lewens weer te gaan bou op die Rots van ons geloof, op die vaste fondament van ons geloof in Jesus Christus. Wanneer elkeen van ons ons eie lewens weer gaan opbou in geloofsgehoorsaamheid aan Hom, is ons dalk besig om saam te werk aan die heropbou van ‘n geroepe volk wat as instrument in Sy Hand moet dien tot verheerliking van Sy Naam.
Noag kon kies om sy sorgvrye lewe voort te sit en maar toe te sien hoe alles rondom hom vergaan, want hy is tog ‘n regverdige man en derhalwe gered of hy kon gehoor gee aan God se opdrag om in geloofsgehoorsaamheid sy taak op aarde te volbring. Sy keuse word vir ons beskryf in vers 22: “En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”
Ek en u kan kies om onsself algeheel te onttrek van ons bedorwe volkie wat heeltemal van ons God vervreem geraak het. Ons is egter regverdiges en derhalwe kan ons gelate die verdorwe toestand aanvaar en rustig leef, want ons is geholpe. Dalk is dit tyd dat ons mooi luister of ons nie dalk opdrag ontvang om ook vir meer as net onsself te leef nie – of ons nie opdrag ontvang om vir ons God te leef nie; wie weet hoe groot die genade werklik is wat ons in Sy oë sal ontvang?
