Godsdiens

SAL JY VRUG LEWER?

Matthéüs 7:1-29

Vers 21 stel dit vir ons onomwonde dat ‘n geloofsbelydenis in Jesus Christus met die mond alleen vir jou dalk ‘n onaangename verrassing kan inhou.  “Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Dit is tragies om te aanskou hoe menige mense deesdae dink dat Godsdiens (met spesifieke verwysing na diens aan God Drie-Enig en derhalwe die geloof in Jesus Christus) iets is wat ‘n mens vinnig onder die knie kan kry, afhandel en dan weer aanbeweeg met jou lewe.  Daar word selfs  verkondig dat die blote belydenis van Jesus Christus as Verlosser jou saligheid sal bewerk.  Hierdie is ‘n verskriklike gevaarlike stelling, juis omdat dit naby aan die waarheid is, maar steeds ‘n leuen.  Dit is ‘n gerieflike stelling wat mense se gewetens kan sus en dan toelaat om met ‘n lewe van ongebondenheid en sonde voort te gaan waarin daar in sonde volhard word.  Christus se eie woorde in hierdie gedeelte is dat dit nie genoeg is om bloot Sy Naam te ken nie.  Jy moet Hom ken en ook die wil doen van ons hemelse Vader – laasgenoemde wat vanselfsprekend sal wees wanneer jy Christus waarlik ken en oortuig is van die Verlossingswerk wat Hy aan die kruis vir jou gedoen het.

 

 Om God te leer ken, is ‘n voorreg.  Om Hom te dien uit dankbaarheid vir jou verlossing van die ewige verderf, is ‘n keuse om die res van jou lewe diensbaar te wees aan Hom.  Dit beteken dat ons Hom deurgaans beter probeer ken deur gereelde Bybelstudie en gebed en die bywoning van die byeenkomste van ware gelowiges, want hoe anders sal ek Hom beter leer ken?  Jesus leer vir ons dat ons die wil van ons hemelse Vader moet doen indien ons die ewige lewe wil beërwe.  Hoe sal ons weet wat Sy Wil is indien ons Hom nie ken nie?  Wanneer ons vir Jesus Christus waarlik ken, sal ons ook probeer streef om soos Hy, ons Meester, te wees en te probeer leef.  Ons sal dus daarna streef om ons hemelse Vader in gehoorsaamheid te dien – soos wat Hy vir ons die voorbeeld gestel het.  Hy het God nooit probeer inspan of manipuleer tot Sy eie voordeel of om Sy eie belange te probeer bevorder nie.  Hy het Sy diens aan God nie beskou as ‘n vrywaring teen teëspoed in die lewe en begin murmureer wanneer teleurstelling, hartseer en verraad Hom getref het nie.  Hy het in ootmoed Homself onderwerp aan God se wil vir Sy lewe, want Hy het God geken en geweet wat God van Hom verwag.  Hy was gehoorsaam aan God tot die dood toe – ja, die dood aan die kruis.  Alhoewel Hy gevra het dat laasgenoemde tog maar by Hom sou verbygaan, was Hy steeds gehoorsaam aan God se Wil en het daarin berus toe die toets aanbreek.

 

Die dwalende voorspoedteologie laat mense so maklik onder die wanindruk verkeer dat God NET ‘n God van liefde is.  Hierdie is natuurlik ‘n baie oningeligte beskrywing van God en ook ‘n verkleinering van Sy onbegryplike, Almagtige en Goddelike Wese.  Alhoewel liefde een van God se karaktereienskappe is, is Hy nie NET liefde nie.  Hierdie valse verpersoonliking van God laat mense onder die indruk verkeer dat ‘n mens gevrywaar kan word van teëspoed wanneer jy ‘n kind van God is.  Laasgenoemde is alles behalwe diens aan God, maar eerder ‘n dwase poging om God te probeer manipuleer of voor te skryf om jou te dien.  In verse 24 – 27 lees ons dan hoe Christus vir ons verduidelik van die huis wat op die rots gebou word en die huis wat op die sand gebou word.  Die mense wat Hom aanneem word nie gevrywaar van storms in die lewe nie, maar het die versekering dat hul op Hom kan vertrou om hul staande te hou in hierdie storms.  Die wat Hom nie aanneem nie, kan ook die storms van die lewe verwag, maar moenie verbaas wees as hierdie storms hulle oorweldig omdat Hy nie hul Rots en Steun is nie. 

 

In ‘n wêreld waar die verpletterende dwaalleer van humanisme soos ‘n vloedgolf die samelewing meesleur oor die afgrond van selfsug, eiewaan, eiesinnigheid en eiegeregtigheid waar die mens die spil is waarom alles draai en waar God moet regstaan om bevele uit te voer, is dit vir ons as kinders van God broodnodig om te verseker dat ons lewens veelvuldige vrug oplewer sodat dit vrug van ons lewens ander mense wat honger is na die waarheid, sal kan voed.  In vers 16 – 20 leer Christus vir ons dat ‘n mens kan sien wat ‘n persoon glo, deur die vrugte wat ‘n persoon dra (die lewenswyse) te beoordeel.  Hy stel dit ook duidelik dat dit onaanvaarbaar is vir Sy kinders (bome in Sy tuin) om sonder vrug te staan.  Dit is dus nie aanvaarbaar om in die wêreld te wees en Sy kind te wees sonder ‘n wil om ‘n verskil te maak nie.  Dit is natuurlik nie moontlik om altyd veelvuldige vrug op te lewer nie, want ons Vader klim soms onder die dooie takkies van ons lewens in om dit uit te knip en soms deeglik te snoei, juis sodat ons meer vrug sal dra.  Dit is egter van kardinale belang dat ons nie jaar na jaar sonder vrug alles uit die aarde sal put sonder om ‘n oes op te lewer nie, want dan sal die tyd aanbreek wat daar nie meer kunsmis en water toegedien word vir ‘n boom wat doodeenvoudig nie wil vrug dra nie.  Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n boom wat jaar-na-jaar teleurstel, uitgekap word om plek te maak vir een wat sal vrug oplewer.  Onthou, dit is die wil van ons Vader wat ons hier geplant het, dat ons goeie vrug moet oplewer.

 

Met die aanvang van die nuwe kalenderjaar is dit dalk die gulde geleentheid om my geestelike lewe weer in oënskou te neem en vir myself te vra – hoe lyk die vrug wat ek opgelewer het in 2014?  Mag ek met reg vir God vra vir ‘n bietjie ekstra water en kunsmis, omdat ek meer vrug wil dra of het Hy alreeds vir my oorvloedig geskenk en ek het dit doodeenvoudig opgebruik sonder om enige opbrengs te lewer?  Dalk  is dit nodig om my lewe in eerlikheid te ondersoek en Hom eerder te vra om hier-en-daar ‘n paar takkies van vleeslike begeertes wat onnodig my groei en opbrengs belemmer, af te knip.  Miskien het ek in die afgelope lewensjaar ‘n groot oes opgelewer, maar die keuring van hierdie oes was nie so goed nie.  Daar moes menige vrugte weggegooi word wat vrot was a.g.v. ‘n valse of skynheilige gesindheid of wat suur geword het a.g.v. nydigheid waarmee ek goeie dinge gedoen het?

 

Kom ons vertrou op ons liefdevolle hemelse Vader wat weet om goeie dinge aan ons te gee om ons te versorg na Sy beste wete in die jaar wat voorlê en probeer om meer te konsentreer op die opbrengs wat ek vir Hom kan lewer sodat daar nog meer oorvloed ook vir ander sal wees!  Kom ons konsentreer minder op wat Hy vir ons kan doen en meer op Wie Hy waarlik is sodat ons verseker sal weet dat Hy ons by die naam sal ken, wanneer ons voor Sy Regterstoel verskyn met ‘n welbehaaglike oes wat ons saamneem!