Godsdiens

Jesus Christus die Seun van God!

altIn ‘n beproewende tyd vir gelowiges waarin die waarhede van die Bybel en die bestaan van God betwis word, verdag gemaak word, deur kerke en kerkleiers verdraai word, uit die skole geban word en deur regerings gering geskat en selfs geïgnoreer word,  kom maak professor H.G. van der Westhuizen weer die ankers vas wat die ongelowiges en ateïste poog om los te ruk! Die AVP vind dit noodsaaklik om die dertien dagstukkies wat prof. Van der Westhuizen geskryf het te plaas as bevestiging en versterking van ons wat glo  en weerlegging van hulle wat dwaal.

Hoog bo die engele

Die Duiwel weet dat Jesus die Seun van God is

Die Demone weet dat Jesus die Seun van God is

Vroue weet dat Jesus die Seun van God ís

Heidene weet dat Jesus die Seun van God is

Afrikane weet dat Jesus die Seun van God is

Dissipels weet dat Jesus die Seun van God ís

Apostels weet dat Jesus die Seun van God is

Paulus weet dat Jesus die Seun van God is

Engele weet dat Jesus die Seun van God is

Jesus weet dat Hy die Seun van God is

Die Vader weet dat Jesus die Seun van God is

Die kerk weet dat Jesus die Seun van God is

 

DONDERDAG 19 MAART 2014

Hoog bo die engele

Hebreërs 1:1-4

 

Die hele Hebreërs hoofstuk 1 handel oor Jesus Christus wat hoog bo die engele is. Hy ís hoog bo alle mense en alle geskape dinge. Hy is die Seun van God. Daarom aanbid en besing ook ons Hom.  

Die verhouding tussen God die Vader en God die Seun is ’n intieme verhouding. Hierdie persoonsverhouding word beskryf as Vader en Seun. Gewoonlik gebruik Jesus die aanspraak ”Vader” in sy gebede. Byvoorbeeld: Johannes 17:11: ”Vader die tyd het gekom. Verheerlik u Seun …” (vgl v5,21,24,25). Matteus 6:9: ”Onse Vader wat in die hemel is” (vgl Luk 11:2). Matteus 26:34: ”My Vader as dit moontlik ís, laat hierdie drinkbeker by My verbygaan …” Lukas 23:24: ”Toe sê Jesus: ’Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!’” Lukas 23:46: ”Vader in u hande gee Ek my Gees oor” (vgl Ps 31:6).

 

In ander gevalle waar Jesus ”Vader” gebruik soos in gebede, gaan dit nog altyd om die verhouding tussen Jesus en die Vader tot uitdrukking te bring. So byvoorbeeld Johannes 5:26 waar dit gaan om die ewige geboorte van die Seun. So ís die besig wees in die dinge van die Vader, Lukas 2:49, ook ’n verhoudingsterm, én so in Matteus 26:29: ”… wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”

 

Merkwaardig dat in die onbegryplike gebed (waarvan Luther sê ”God van God verlaat – wie kan dit verstaan?”) waar dit nie meer gaan om die intieme verhouding Vader-Seun nie, Jesus bid: ”Eloï Eloï lema sabagtani” (My God my God, waarom – of waarvoor – het U My verlaat?).

 

Al hierdie verhoudingsuitsprake is nie bedoel om aan te dui dat Jesus om een of ander rede (bv dat Hy nie ’n aardse vader gehad het nie) God sy Vader genoem het nie. Hierdie verhou-dingsuitsprake is geanker in die wesensidentiteit van Jesus en God. Die oorsaak van die verhoudingsuitsprake Vader: Seun kan nie gebruik word om die wesensidentiteit van God: Seun te ontken nie.

 

Omdat ons weet dat Jesus die Seun van God is, roep ons Hom daagliks aan as: Onse Vader wat in die hemel ís …

 

Amen