Godsdiens

GEESTELIKE SOENOFFERS

alt1 Petrus 2:1-10 Vers 5:  “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” ‘n Jong volk met ‘n baie ryk geskiedenis het van ons een van die trotsste volke in die wêreld gemaak ten spyte van die feit dat ons so ‘n geringe volkie is.  In getallewig het ons nog nooit swaar geweeg nie, maar ons karakter het menigmaal kop en skouers bo ander volke uitgestaan.  ‘n Karakter wat ‘n mens net kan ontwikkel wanneer jy waarlik glo in die lewende God van hemel en aarde.  ‘n Karakter wat kenmerkend is aan ‘n doelgerigte volk – ‘n volk met duidelike riglyne; ‘n volk met onveranderlike riglyne; ‘n volk met ‘n onveranderlike en onsterflike, ewige, almagtige God en koning as Leidsman.

 

Ons volk se Godsvrees het ons laat ry oor die hoogtes van die aarde wat ‘n mens laat dink jy droom wanneer jy van die prestasies en voorspoed in ons geskiedenis lees.  Die wonderwerke van klein groepies burgers wat getalle-oormagte telkens verslaan het in oorloë.  Vrouens, mans en families wat in die moeilikste omstandighede moes leef, vlug en veg en in hierdie tye steeds lief gebly het vir mekaar, trou gebly het aan mekaar en trou gebly het aan hul God.  Hier aan die suidpunt van Afrika was ‘n volk geplant wat vroeër geen volk was nie en tot Hom geroep is tot Sy wonderbare lig om deur groot barmhartigheid nie net hier geplant te word nie, maar uit talle doodsgevare gered te word.  ‘n Volk wat Sy Hand as so ‘n werklikheid in hul lewens ervaar het, dat hul selfs plegtig beloof het om vir Hom ‘n volk te wees.  Verse 9&10:  “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”  ‘n Volk wat in 1961 OPENLIK VERKLAAR het in sy grondwet dat God die hoogste gesag in die hemel en op aarde is en dat ons as mense, ons as volk, ‘n verantwoordelikheid teenoor Hom en teenoor mekaar het, om te leef volgens Sy welbehae.  Ons het openlik erken dat ons ‘n volk met ‘n roeping is wat dit doelgerig moet nastreef.

 Met hierdie erkenning en verering van God, het ons natuurlik onsself die argwaan van die bose magte op die hals gehaal.  Die bose het nie getalm om ons geestelik te begin  teister met aanvalle op feitlik elke lewensterrein nie.  Die aanslae het begin en die die doel was duidelik – vervreem hierdie volk van sy God, want daarin lê hulle krag.  ‘n Krag wat deur geen ander oorwin kan word nie.  As hierdie trotse volkie sy Bron van Krag vergeet en verlaat, sal hy soos ‘n Simson wees wie se hare afgeskeer is – hy sal ‘n spot en ‘n belagging vir die goddelose word. . . Die huisaltaar is vervang in ons huise met die duiwelsdoos, ons kinders word nie meer opgevoed in die weë van die Here nie, maar eerder afgerig sonder einde om die beste sportster te word of om te kyk hoe gewild hulle onder die maats kan wees, selfs al is dit ten koste van beginsels en sedes wat in God se onfeilbare Woord vir hul neergelê word.   Dit veroorsaak verwarring, identiteitskrisisse, hartseer, woede, frustrasie, want die enigste STANDVASTIGE EN ONVERANDERLIKE riglyn in die kind se lewe, word as ‘n bysaak beskou.  Die Boek vol wette wat ek so nou en dan lees om my gewete te sus.  Ons sit met ‘n jeug, nee ‘n volk, wat nie weet waartoe hy instaat is nie, omdat hy nie die krag van sy God ken nie.  Hy ken dalk nie eers meer sy God nie. . .

Lendelam geslaan, spook en spartel ons om voet-by-stuk te probeer hou.  Die dwingelandy word al hoe swaarder, ons jaag al meer na wind, ons werk al hoe harder en kom al hoe later by die huis, ons skeep ons kinders se opvoeding al meer af en leer hul al minder van God en dan wil ons kla wanneer hierdie versuim van ons kant af vir ons in die toekoms smart en ellende veroorsaak!  Ons het al minder tyd om ag te gee op ons tyd met Hom en raak dalk al meer van Hom vervreemd en raak sodoende al meer neerslagtig en afgemat, want ons vergeet van ons ware hoop wat in Hom is.  Dit raak al moeiliker om ons God te dien in ons eie vaderland en dit was presies die plan van die bose.  

Die vraag is – Hoe lank sal ons elkeen so voortgaan om net sy eie klein koninkrykie te bou en te beskerm?  Wanneer sal ons terugkeer na Hom?  Jesaja 30:15:”Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel:  In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie”.  Wanneer ons hierdie riglyn volg, sal ons weer besef dat ons nie magteloos hoef te sit en toekyk hoe alles rondom ons vergaan nie.  Ons hoef nie passief te sit en kyk hoe ‘n volk van die aardbodem af uitgedelg word nie.  Ons sal elkeen by homself begin om te doen dit wat ons kan – ons sal terugkeer na God en besef dat elke behoudende en gelowige kind van God daagliks ‘n plig het wat ons versuim en dan wil ons huigelagtig kla oor ons ellende en vra, “ja maar wat moet ons doen?”.  Wag op Hom, ja!  Jesaja 62:6-7:”…o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!”  Begin dus u verantwoordelikhede nakom in die stryd vir die behoud van ons volk en die stryd om dit weer maklik en ‘n vreugde te maak vir mense om God te dien.  Die verantwoordelikhede in u eie huis:

             BID en smeek God om ons genadig te wees en herinner Hom aan Sy beloftes in Sy Woord;

             Maak tyd vir intense Skrifstudie en leer ken God opnuut en opreg deur Sy Woord;

             Stel die huisaltaar in u huis as ‘n standvastige verordening in, want sodoende lê u ‘n stewige grondslag vir die toekomstige geslagte wat moet deelneem in die stryd;

             Wees lief vir God en vir u medemens en probeer om Hom te behaag met u lewenswandel!  Ons mag dalk op menige wyse verbied word om te sê wat ons wil, maar niemand kan ons keer om dit te leef nie, laasgenoemde wat BAIE HARDER sal uitbasuin as ons woorde!

             Bemoedig ons volksgenote en gelowiges in Christus wat saam met ons lei.  Wees ‘n voorbeel vir ander en motiveer hulle sodoende om aan ons Vader gehoorsaam te wees.

Deur ‘n lewe te leef wat Hom welbehaaglik is, kan ons soenoffers bring vir ons ongeregtigehde van sedeloosheid, goddeloosheid, afvalligheid van Hom, gierigheid, leuentaal, hoogmoedigheid, afguns en allerhande dergelike handelswyse wat in ons volk te bespeur was die afgelope paar dekades.  Karaktertrekke wat nie pas by ‘n volk wat doelgerig streef om te leef as Sy volk nie, maar eerder pas by ‘n volk wat doelloos en sonder rigting deur die lewe meegesleur word. 

Ons geestelike offers mag dalk net aanneemlik voor Sy aangesig wees om Hom weer na ons hulpgeroep te wend om ons weer op te bou as lewende stene tot ‘n geestelike huis waar Sy Naam verheerlik sal word.  Is dit nie wat ons volk in 1838 beloof het om te doen nie – Dat ons ‘n huis sal oprig tot die eer van Sy Naam?  Sonder Hom sal ons nie in ons doel slaag nie, want dan sal dit ‘n strewe na menslike ambisies wees, maar wanneer ons oog gevestig is op Hom, kan ons doelgerig volg waarheen Hy lei!