Godsdiens

LEWE ONS VIR HOM!

1 Petrus 4:1-19  alt“om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van mense te leef nie, maar volgens die wil van God.” Hoeveel mense is daar nie wat hul lewens inrig om na die begeerlikhede van mense te leef nie?  Ons almal het tog mense vir wie ons lief is en wie se opinie vir ons belangrik is in ons lewens, maar ons moet egter altyd leef op ‘n wyse wat God se goedkeuring wegdra.  Daar is talle mense wat hul lewens leef om die algemeen-aanvaarde opinie nie teleur te stel nie, ongeag of hul God teleurstel in die proses of nie.  Is dit hoe ons veronderstel is om te leef wanneer ons bely dat ons Hom waarlik liefhet? In vers 3 vind ons die aanklag wat verklaar dat ons die afgelope tyd nie ‘n lewe geleef het wat onderskeidend van die heidene is nie, maar eerder gedeel het in die dinge wat die heidene aanhang.  Is dit nie ook waar vir ons volk wat as God se volk en eiendom veronderstel is om tot Sy eer te leef in die land wat Hy uit liefde en genade aan ons gegee het nie?  Wanneer ons die Afrikanervolk wat bykans 176 jaar gelede plegtig trou gesweer het aan God vandag langs enige ander volk op die verhoog van volkere plaas, sou ons lewenswandel onderskeidend wees van ‘n ander, heidense volk?  Sal ons Verlosser en Koning se naam grootgemaak kan word deur ons lewenswandel?

 

Dit het tyd geword vir ons as God se volk om op te hou deel in daardie dinge wat Hom nie behaag nie en ons tot Hom te bekeer van ons verkeerde weë en nie langer saam te loop in die uitgieting van losbandigheid nie.   Ons verwag dat God ons moet verlos van ons ellende, maar weier om van ons kant die dinge wat meegehelp het om ons in hierdie ellende te dompel, te laat staan.  Wat sal die mense van my sê?  Hulle sal agter my rug vir my lag en my bespot!  Vers 14: “As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.  Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.”  Het mense se opinie van my lewe waarlik belangriker geraak as God se opinie van my?

Wat het geword van die liefde en gasvryheid jeens mekaar onder ons volksgenote?  Dien ons mekaar met die genadegawes wat ons ontvang het of misbruik ons daardie genadegawes tot ons eie voordeel of selfs om mekaar uit te buit en dan in eie krag te roem oor my eie voortreflikheid en goedheid en grootheid?  Gee ons die eer van ons lewens aan Jesus Christus aan die die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid?

Hoe lank sal ons huiwer om na Hom terug te keer, omdat dit vir ons voel asof ons Heer talm om te kom?  Is ons gereed vir die oordeel wat alreeds aan die gang is in ons land?  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.  En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? (Vers17).