Romeine 1:18-32 Leef ons nie ook in ‘n samelewing vol mense wat wel van God weet of Hom wel ken, maar nie verheerlik of dank met hul lewens nie? Is dit nie maar wat ‘n mens doen wanneer jy Sondag vir Sondag in die kerk sit, maar van Maandag tot Saterdag ‘n lewe leef waarin daar geen plek vir God in jou lewe is nie? “omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.” Een van die groot redes waarom God nie meer deur mense se lewens verheerlik en gedank word nie, is omdat die huidige samelewing, menige kerke en dwaalleraars ook die heerlikheid van God afbreek deur te verkondig dat Hy net ‘n God van liefde is. Dit is waar dat die Almagtige, Drie-Enige God van hemel en aarde ‘n God van liefde is, daarom dat Hy Sy Seun gestuur het om ons van ons sondes te verlos, maar Hy is nie NET ‘n God van liefde nie. Hy is ook ‘n God van waarheid, geregtighed, heiligheid, regverdigheid en selfs ‘n God van wraak oor die kwade. Durf ons God se Wese afwater tot een enkele eienskap wat vir ons aanvaarbaar en aanneemlik is?
Die verkondiging van ‘n halwe waarheid, wat steeds ‘n leuen is wat doodeenvoudig mooi klink, het mense beweeg om in ons volk se geskiedenis ook die waarheid te verruil vir die leuen. Ons volk wat as ‘n Godvresende volk bekendgestaan het, het gekies om die skepsel te vereer bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid (vers 25). Ons het dit gedoen deur te gaan stem en te vra dat ons grondwet waarin God as die hoogste gesag erken word, verwyder moet word om plek te maak vir ‘n grondwet waarin mense die hoogste gesag is. Ons het gekies om die “mens” te dien en belangriker as God te beskou en menseregte hoër te ag as God se Woord en verordeninge. Hierdie dwase optrede het vinnig aanleiding gegee daartoe dat gruwelhede voor die aangesig van God in ons land onder die dekmantel van “menseregte” gewettig word – gruwelhede soos homoseksualisme! (Vergelyk verse 26 en 27).
Dit het vir die meeste mense in ons land te veel moeite geword om erns te maak met hul Godsdiens en om huisgodsdiens te hou en dus kan ons met reg sê dat die groter meerderheid van ons bevolking dit nie die moeite werd ag om God in erkentenis te hou nie (vers 28). Al hierdie dinge word kristalhelder vir ons in God se Woord uiteengesit, maar steeds staan ons verbysterd wanneer ons in ‘n samelewing moet leef wat as volg daaruit sien: “hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug, vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid, nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,” (verse 29-31).
Die groot vraag vir elke behoudende Godvresende Afrikaner is natuurlik wat ons gesindheid daarteenoor is? Is ons besig om deur die oorweldigende oormag van die goddeloosheid en boosheid mee te doen aan hierdie gruwelhede? Ons is veronderstel om gedurigdeur selfondersoek in ons lewens in te stel en hierdie slegte gesindhede en dade uit ons lewens uit te roei wanneer dit daar aanwesig is. Wanneer ons van mening is dat ons vry is hiervan, het ons verder die verantwoordelikheid om geestelik nederig te bly en ander volksgenote te vermaan om ook nie aan hierdie verkeerde lewenswandel gelykvormig te word nie. Ons wat geplant is aan die Suidpunt van Afrika om met ‘n lewe van dankbaarheid ons Skepper se naam te verheerlik durf nie eers ons goedkeuring skenk aan mense wat in hierdie gruwelhede leef en daarin volhard nie.
As knegte van die Allerhoogste het ons die verantwoordelikheid om in alle omstandighede as Sy skepsels, ons Skepper te dien en te prys tot in ewigheid, Amen.
