Jeremia 5:1-31
“Hulle het die HERE verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie;” (Vers 12). Sou ons nie die Afrikaner kan vergelyk met die volk Israel in hierdie gedeelte nie? Die Afrikaner het ook sy God verloën deur af te wyk en weg te doen met ‘n Godsvresende grondwet om plek te maak vir ‘n humistiese grondwet. Boonop het menige dan ook gereken dat die onheil a.g.v. hierdie skandelike daad nie oor ons sou kom nie en ons die hongersnood nie sou sien nie. Inteendeel, daar is valslik waarkuwings uitgestuur dat laasgenoemde juis oor ons sou kom indien ons nie ons Godsvresende grondwet opsy skuif vir ‘n kommunistiese en humanistiese grondwet nie. M.a.w. vergeet van die vrees vir God en dink aan julle aardse belang en gemak!
Vandag wil ons verdwaas vra waarom vreemdelinge dan met ‘n totale onbevoegdheid oor ons heers? Is die waarskuwing nie vir ons glashelder in vers 15 nie? “Kyk, Ek bring oor julle ‘n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die HERE; ‘n eeue-oue nasie is dit, ‘n nasie van ouds af, ‘n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.” Let baie mooi daarop dat dit God self is wat laasgenoemde doen as ‘n STRAF op Sy volk se troueloosheid en dat dit nie die teenstaander is wat so gedug was en daarom Sy volk kon onderwerp nie. Niks sal op hierdie aarde gebeur sonder dat dit Sy Wil is nie en geen mag sal oor ons heers sonder dat Hy dit toelaat nie. Hierdie mag wat oor ons gebring is as ‘n strafgerig deur Hom is voorwaar besig om die woorde in vers 17 feitlik letterlik op ons te laat neerkom – “Hulle sal jou oes en jou brood opeet,…” – Ons word belas op elke denkbare wyse sodat die opbrings van ons hande in die staatskas beland en aan diegene uitgedeel word wat nie daarvoor gewerk het nie. “…hulle sal jou seuns en jou dogters opeet,…” – hoeveel kinders word nie universiteitstoelating en ander geleenthede in die samelewing geweier om plek te maak vir “regstellende aksie” nie? “…hulle sal jou kleinvee en jou beeste opeet, hulle sal jou wingerdstok en jou vyeboom opeet,…” – ek is seker hierdie is vir ons ‘n duidelike waarskuwing waar die nuwe onteieningswet van landbougrond sal eindig. “…hulle sal jou versterkte stede waar jy op vertrou, met die swaard verwoes.” – ons hoef maar net in die land rond te beweeg en die koerantopskrifte te lees om te sien hoe ons dorpe en stede agteruitgaan en verwoes en geplunder word a.g.v. misdaad, stakings en plundery.
Steeds sal ons, soos die volk Israel, die fout nie by onsself vind nie. Ons volk sal vra hoe God al hierdie dinge oor ons kan laat kom – hoe kan Hy (‘n God van liefde) dit toelaat? Die antwoord volg dadelik – dit is ons as Sy volk wat Hom verlaat het en Hom nie meer vrees nie! Dit is ons wat nie wil luister na Sy stem om Hom met opregtheid en in waarheid te dien nie! Selfs die grote oseaan met al sy krag is gehoorsaam aan die grense wat God daarvoor gestel het, maar hierdie volk se hart is wederstrewig om te luister! (Verse 19 – 24). Selfs was daar van ons volksgenote wat meegedoen het om ons volk van God af te mislei ter wille van finansiële gewin en rykdom en is daar huidiglik steeds opportuniste wat ons volk se ellende gebruik uitsluitlik vir hul finansiële gewin. (Verse 26 – 28).
Wat sekerlik die mees klaaglike toestand is, is ons volk se mense wat in kerke sit om in die gehoor gestreel te word en nie na die waarheid te soek nie. Hulle word mislei, maar verkies om na hierdie misleiding te luister, want die waarheid sal hul noodsaak om opofferings te maak en ook die eie-ek prys te gee en die realiteit in die gesig te staar en dit wil ons nie doen nie. Ons sal nie die eie-ek (humanisme) prys gee om God te dien nie, want dit is mos lekkerder dat Hy ons dien? Sou hierdie ontsettende afskuwelike ding wat in ons land aan gebeur nie deur Hom gewreek word nie?
Elke behoudende nasionalis en Godsvresende mens sal die antwoord op bogenoemde (retoriese) vraag ken. Die vraag wat elkeen wat hierdie antwoord ken hom-/haarself moet afvra is egter die woorde in vers 31 van hierdie gedeelte: “…Maar wat sal julle doen aan die einde hiervan?”
Jeremia 6:16: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. …”
