1 Petrus 3:1-7
Ons raak soms so maklik verstrengel in die stryd vir ons geloof en beginsels in die bose samelewing waarin ons leef, dat ons soms amper uit die oog verloor waarvoor ons stry en selfs skuldig raak daaraan om nie meer self gehoorsaam te wees aan die Evangelie waarvoor ons eintlik stry nie.Ons stryd aan die Suidpunt van Afrika is ‘n edel stryd teen die bose en vir die behoud van die Christelike geloof en Evangelie in ons land, want sou ons volk as ligdraer hier ten gronde gaan, word die Evangelie bes moontlik saam met ons begrawe. (1 Petrus 2:9&10: “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”). Dit is daarom lewensnoodsaaklik dat ons nooit sal ophou stry hiervoor nie, maar net so lewensnoodsaaklik dat ons steeds ook self gehoorsaam sal wees aan hierdie Evangelie waarvoor ons stry, want dit is waarlik die weg van die lewe.
In 1 Petrus 3 vind ons opgeteken die pligte van onderskeidelik die Godvresende vrou en die Godvresende man. Petrus vermaan die vrouens om aan hul eie mans onderdanig te wees en hul sodoende te versterk, maar ook deur ‘n onderdanige godvresende lewenswandel tereg te wys wanneer hulself dalk verkeerd handel. Hierdie gedeelte is een van die min gedeeltes in die Woord waar die Godvresende vrou amper spesifiek daarop gewys kan word hoe sy ‘n welgevallige geestelike offer aan God kan bring. Sy kan dit doen deur die verborge mens, m.a.w. deur ‘n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God (vers 4). Is hierdie woorde nie vir elke vrou ‘n spesiale, mooie uitdaging nie? Jy kan optree op ‘n wyse wat die Almagtige God van hemel en aarde sal beskryf as ‘n kosbare offer wat jy aan Hom bring met jou lewe.
Aanhangers van die humanistiese lewensbeskouing sal u nou onmiddellik daarop wys dat bogenoemde optrede deur ‘n vrou sal veroorsaak dat haar man oor haar sal loop en op haar sal trap en dat sy dit nie mag toelaat nie. Sou ‘n Godvresende man dit waag om die waarskuwing in vers 7 te ignoreer? Petrus waarsku die Godvresende man om aan sy vrou, as die swakkere wat in onderdanigheid, sagmoedigheid en ‘n stille gees met hom moet saamleef, eer te betoon. Hy wys die man daarop dat hy dus nie die onderdanigheid, sagmoedigheid en stille gees van sy vrou, wat baie kosbaar is voor God, moet vertrap nie, want dan sal sy gebede verhinder word. (Vers 7).
Hierdie eenvoudige riglyne wat in God se woord aan ons gegee word, is besig om verlore te gaan en dan wil ons vra waarom die gesinslewe in ons volk uitmekaar val? Die riglyne hierin is mos verouderd en het vir die mense van die Bybel gegeld, maar die omstandighede het te veel verander dat dit vandag nog op ons van toepassing kan wees? Dit is seker waarom egskeiding in daardie tyd ‘n “groter sonde” was as vandag en dus baie minder algemeen was as vandag? Die heenwysing na Sara in Genesis om dieselfde riglyne wat hier gegee word te onderhou en die bevestiging van hierdie selfde riglyne in die 7de laaste boek van die Evangelie, wys vir ons dat God se insettinge nie verouderd raak nie, maar dat dit eerder die samelewing is wat verdorwe raak weens die feit dat mense kies om nie Sy raad en weë te volg nie – daardie raad en weë van die lewe waarvan ons in die Skrif leer.
Dit is ons as ware kinders van God se plig om die Evangelie in die bedorwe wêreld rondom ons te verkondig, maar dit is ook ons plig om die riglyne daarvan nederig in ons eie lewens te gehoorsaam sodat die wêreld in ons eie lewens kan aanskou dat dit goed is om in die weë van die Here te wandel. Alhoewel dit moeilik is om reg te doen in ‘n onregverdige en verdraaide samelewing, is dit tot ons eie beswil om die pad van die lewe te kies wat wegdraai van die moeras van morele en sedelike verval en boonop lei na die Ewige Eindbestemming wat op ons wag.
Mag elke Godvresende vrou hierdie pad met ‘n sagmoedige en stille gees stap met ‘n rein en Godvresende lewenswandel en sodoende jul eie mans onderdanig wees en staande hou in hierdie moeilike tye. Mag elke Godvresende man hierdie vrouens waardeer en eer om sodoende met vrymoedigheid voor God te kan kniel sonder dat julle gebede verhinder mag word. Gebed is een van die min wapens wat ons oor het in die stryd teen die bose, ons wil nie verhinder word in die gebruik daarvan nie.
“EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” (1 Petrus 5:10&11).
