1 Samuel 15:1-35 Ons lees in vers 3 “Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.” waar die HERE die opdrag aan Saul gee om op te trek in oorlog teen Ámalek met die bevel om alles met die banvloek te tref insluitend die spesifieke bevel om ook die bees en kleinvee met die banvloek te tref. Ons lees hoe Saul en sy tweehonderd en tien duisend manskappe die stad van Ámalek met die banvloek getref het, maar die koning van die stad tesame met die beste van die beeste en kleinvee asook die naas-bestes van die lammers en alles wat van waarde was weggevoer het na hul land. Dit was vir hulle ‘n maklike taak om die onaanneemlike met die banvloek te tref, maar die toets van die menslike begeerlikheid teenoor gehoorsaamheid aan God se bevel, het hulle loshande gepluk.
Saul was boonop trots op hierdie roemryke oorwinning en selfs begeesterd deur die oorwinning tesame met die aanneemlike buit wat weggevoer is. Hy probeer egter sy ongehoorsaamheid aan God se bevel regverdig deur die verskoning te gebruik dat sy ongehoorsaamheid vir ‘n goeie doel was – om die weggevoerde buit aan God te offer! (Vers 15). Saul probeer deurgaans ook sy onskuld handhaaf deur met elke beskuldiging wat die profeet Samuel na hom swaai – die skuld op sy manskappe te laai. (Verse 15 en 21).
Nadat Samuel vir Saul daarop wys dat gehoorsaamheid aan God vir Hom baie meer aanneemlik is as enige ander fisiese offer wat ‘n mens kan bring, besef Saul sy verkeerdheid en erken hy ook sy skuld in vers 24: “Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.” Sy vrees vir sy manskappe het gelei tot sy ongehoorsaamheid aan God. Omdat hy nie sy vertroue totaal op God geplaas het nie – het God hom as koning van Sy volk verwerp!
Hoeveel keer is ons nie maar soos Saul ook aan God gehoorsaam, maar net tot by daardie punt waar dit vir ons ongerieflik of ongemaklik raak nie. Ek sal God gehoorsaam, maar as dit my aansien voor my vriende negatief kan beïnvloed, dan sal ek maar so bietjie laat vaar met die standvastigheid/ gehoorsaamheid/beginsels. Ek sal God gehoorsaam, maar ek sal my kinders so bietjie meer gehoorsaam, want ek wil nie hê hulle moet vir my kwaad wees nie. Ek sal aan God gehoorsaam wees, maar daar waar dit vir my groot finansiële verlies kan veroorsaak in die handelswêreld sal ek mos maar ‘n bietjie moet toegee – ek gee immers my tiende in die kerk – so as ek met oneerlikheid ‘n groter wins kan maak kan ek mos ‘n groter tiende gee? Ek sal dalk selfs meer as net ‘n tiende van hierdie wins wil afstaan omdat ek my gewete wil probeer sus (klink dit nie baie soortgelyk aan Saul se optrede wat ook die gedagte van die Rooms-katolieke aflaatbriewe in die gedagtes laat opkom nie?). Tereg dat Samuel vir Saul in vers 23 daarop wys dat eiesinnigheid afgodery en beeldediens is. Dit kom dus daarop neer dat wanneer jy vir God op jou voorwaardes wil aanbid, jy besig is met afgodery.
Sonder dat ‘n mens dit dalk besef, is ongehoorsame optrede ‘n teken van ongeloof in ons lewens. Waarom wil jy oneerlik sake doen wanneer jy glo dat God die Gewer van alle goeie gawes is en dat Hy aan elkeen van ons sal gee soos wat Hy weet nodig en goed is vir ons? Behoort die aarde en die volheid daarvan nie aan Hom nie? Waarom sal ek nie my kind(ers) reg grootmaak in Sy weë nie – terwyl Hy alleen die Gewer van lewe is en hulle in die eerste plek aan my geskenk het? Is ‘n Godvresende opvoeding (gehoorsaamheid) nie die minste wat ek in dankbaarheid aan Hom kan offer as dankoffer vir hierdie pragtige geskenke vir wie ek so lief is nie?
Vers 35: “…en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.” As ek op hierdie oomblik moet opstaan en rekenskap gee oor die werk, gemeente, vriende, sakeonderneming, meisie, vrou en/of kinders wat God aan my toevertrou het, sal Hy berou hê daaroor dat Hy sommige daarvan aan my gegee/toevertrou het aangesien ek nie daarmee handel in gehoorsaamheid aan Hom nie of sal Hy met welgevalle na my kyk en sien hoedat ek met ywer Hom in gehoorsaamheid dien met alles wat Hy aan my toevertrou het?
Laat elkeen van ons elke dag probeer om met ‘n gesindheid van nederige onderdanigheid die welgevallige offers van gehoorsaamheid aan die stem van ons God aan Hom te bring. Mag hierdie offers soos ‘n lieflike reukwerk na Hom opstyg wat ons in genade sal aansien om ons as volk wat verwerp voel deur Hom weens ons ongehoorsaamheid, weer aan te neem en aan ons verlossing te skenk op Sy bestemde tyd!
