Godsdiens

AAN AL DIE KLEINGELOWIGES WAT HULP EN UITKOMS VIR DIE AFRIKANERVOLK OP ANDER PLEKKE SOEK!

altOmdat aanvoerders aangevoer het in Israel, omdat die volk hom gewillig getoon het — prys die HERE!

RIGTERS 3:1-11

1    EN dit is die nasies wat die HERE laat oorbly het om Israel, almal wat al die oorloë van Kanaän nie geken het nie, deur hulle op die proef te stel —

2    net dat die geslagte van die kinders van Israel dit kan weet — om hulle te leer oorlog voer, ten minste die wat daar vroeër nie van geweet het nie:

3    vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en Sidoniërs en Hewiete wat in die gebergte Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die ingang na Hamat.

4    Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of hulle na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou luister.

 

5    SO het die kinders van Israel dan onder die Kanaäniete, Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon,

6    en húl dogters vir hulle as vroue geneem en hulle eie dogters aan húl seuns gegee en hul gode gedien.

7    En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.

8    Daarop het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle verkoop in die hand van Kusan Risatáim, die koning van Mesopotámië, en die kinders van Israel het Kusan Risatáim agt jaar lank gedien.

9    Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE ’n verlosser vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het: Ótniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb.

10   En die Gees van die HERE het op hom gekom, en hy het Israel gerig en uitgetrek om oorlog te voer; en die HERE het Kusan Risatáim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan Risatáim gekry het.

11   Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Ótniël, die seun van Kenas, het gesterwe.

 

RIGTERS 4:1-24

 

1    MAAR ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE.

2    Daarom het die HERE hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Hasor geregeer het; en sy leërowerste was Sísera, ’n inwoner van Haróset van die heidene.

3    En die kinders van Israel het die HERE aangeroep; want hy het negehonderd ysterwaens gehad en die kinders van Israel twintig jaar lank swaar verdruk.

4    En Debóra, ’n profetes, die vrou van Láppidot, het in dié tyd Israel gerig;

5    en sy het gesit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die gebergte van Efraim; en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir regspraak.

6    Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir hom: Het die HERE, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam?

7    dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek, en Ek sal hom in jou hand gee.

8    Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie.

9    Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op die pad wat jy sal gaan nie; want die HERE sal Sísera in die hand van ’n vrou verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek.

10   Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tienduisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek.

11   En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab, die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by Saänáim, naby Kedes.

12   En toe hulle aan Sísera berig bring dat Barak, die seun van Abinóam, na die berg Tabor opgetrek het,

13   het Sísera al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens, en al die manskappe wat by hom was, uit Haróset van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep.

14   Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die HERE Sísera in jou hand gee. Trek die HERE nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan.

15   En die HERE het Sísera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van die swaard in verwarring gebring voor Barak uit, en Sísera het van sy wa afgeklim en te voet gevlug.

16   Maar Barak het die waens en die leër agternagejaag tot by Haróset van die heidene, en die hele leër van Sísera het deur die skerpte van die swaard geval; daar het selfs nie een oorgebly nie.

17   Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet; want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet.

18   En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer, draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die tent, en sy het hom met ’n kombers toegemaak.

19   Daarop sê hy vir haar: Gee my tog ’n bietjie water om te drink, want ek het dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer toe.

20   En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee.

21   Toe neem Jael, die vrou van Heber, ’n tentpen en vat die hamer in haar hand en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan bewusteloos geword en gesterwe.

22   En kyk, terwyl Barak Sísera agtervolg, gaan Jael uit hom tegemoet en sê vir hom: Kom, en ek sal u die man wys wat u soek; en toe hy by haar inkom, lê Sísera daar dood, met die pen deur die slaap van sy hoof!

23   So het God dan op dié dag Jabin, die koning van Kanaän, voor die kinders van Israel onderwerp.

24   En die hand van die kinders van Israel het al swaarder gaan druk op Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, uitgeroei het.

 

RIGTERS 5:1-31

1    OP dié dag het Debóra en Barak, die seun van Abinóam, gesing en gesê:

2    Omdat aanvoerders aangevoer het in Israel, omdat die volk hom gewillig getoon het — prys die HERE!

3    Hoor, o konings! Luister, o vorste! Ek, tot eer van die HERE wil ek sing, tot eer van die HERE, die God van Israel, wil ek psalmsing.

4    HERE, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U voortgestap het uit die veld van Edom, het die aarde gebeef, ook het die hemel gedrup, ook het die wolke water gedrup.

5    Berge het gewankel voor die aangesig van die HERE uit, hierdie Sinai voor die aangesig van die HERE, die God van Israel.

6    In die dae van Samgar, die seun van Anat, in die dae van Jael, was die paaie verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan.

7    Leiers het ontbreek in Israel, ontbreek; totdat ek, Debóra, opgestaan het, ek, ’n moeder in Israel, opgestaan het.

8    Kies hulle nuwe gode, dan is daar oorlog in die poorte; was daar skild of spies te sien onder veertigduisend in Israel?

9    My hart is vir die aanvoerders van Israel wat hulle gewillig betoon het onder die volk — prys die HERE!

10   Julle wat op wit eselinne ry, wat op tapyte sit, wandelaars langs die paaie, dink na!

11   Vanweë die stem van die boogskutters tussen die drinkplekke, besing hulle daar die regverdige dade van die HERE, die regverdige dade van sy leiding in Israel. Toe het die volk van die HERE afgetrek na die poorte toe.

12   Word wakker, word wakker, Debóra! Word wakker, word wakker, hef ’n lied aan! Staan op, Barak! en voer jou gevangenes weg, seun van Abinóam!

13   Toe het die oorblyfsel van die vername manne van die volk afgetrek, toe het die HERE vir my afgetrek onder die helde.

14   Uit Efraim, die wat hulle wortel in Ámalek het; Benjamin, agter jou aan onder jou manskappe; uit Magir trek die aanvoerders af, en uit Sébulon die wat met die werwerstaf uittrek;

15   en vorste in Íssaskar met Debóra saam; en Íssaskar soos Barak: in die dal storm hulle op sy voetspore. In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot.

16   Waarom het jy tussen die veekrale bly sit en luister na die fluitspel by die troppe vee? In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot.

17   Gílead het rustig oorkant die Jordaan gebly; en Dan, waarom vertoef hy by die skepe? Aser het bly sit aan die seekus en aan sy baaie rustig gebly.

18   Sébulon is ’n volk wat sy siel gering ag tot die dood toe; ook Náftali op die hoogvlaktes.

19   Konings het gekom, geveg; toe het die konings van Kanaän geveg by Táänag, by die waters van Megíddo — geen stuk silwer het hulle geneem nie.

20   Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sísera geveg;

21   die spruit Kison het hulle afgedrywe, die spruit van ontmoeting, die spruit Kison! Tree op, my siel, met mag!

22   Toe het die perdepote geklap van die gejaag, die gejaag van hulle geweldiges.

23   Vloek Meros, sê die Engel van die HERE; ja, vervloek sy inwoners, omdat hulle die HERE nie tot hulp gekom het nie, die HERE tot hulp onder die helde.

24   Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd wees bo die vroue in die tent!

25   Water het hy gevra, melk het sy gegee, in ’n sierlike skottel het sy dikmelk gebring.

26   Haar hand steek sy uit na die tentpen en haar regterhand na die werksman se hamer; en sy hamer Sísera, verpletter sy kop en verbrysel en deurboor die slaap van sy hoof.

27   Tussen haar voete sak hy inmekaar, val, lê daar! Tussen haar voete sak hy inmekaar, val; waar hy inmekaarsak, daar lê hy — morsdood.

28   Deur die venster kyk die moeder van Sísera uit, en sy roep deur die venstertralie: Waarom vertoef sy wa om te kom? Waarom versuim die passe van sy wa-span?

29   Die skranderste van haar vorstinne antwoord haar, ja, sy self antwoord op haar woorde:

30   Hulle het seker buit gevind en verdeel dit: een slavin, twee slavinne vir elke man; ’n buit van bont klere vir Sísera, ’n buit van bont klere, veelkleurige; ’n bont doek, twee veelkleuriges as buit vir my hals.

31   So moet al u vyande, HERE, omkom! Maar die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag. En die land het veertig jaar lank gerus.

 Amen, ja amen O Vader, Skepper van die hemel en die aarde. Aan U kom toe die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.