In watter mate het die humanisme en menseregte daartoe bygedra om godsdiensgelykheid en selfs ateïsme, aborsie, sodomie, moord en verkragting straffeloos te aanvaar sodat die vreemdeling in ons poorte en ons nageslag verskoon moes word indien hulle nie bereid was om God se gebooie na te kom en binne Sy verbond te leef nie? Verder daartoe bygedra dat ons Jesus Christus as ons Verlosser en Saligmaker te aanvaar en dan voort te gaan om Sy gebooie te veronagsaam omdat ons vergifnis ontvang het? Dit sal goed wees om weer te lees van die gevolge en dit dan met ons volk se huidige posisie te vergelyk en opnuut God se Woord te ondersoek, want die riglyne lê daarin vir ons geopenbaar.
DEUTERONÓMIUM 29: 9-29.
9 Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.
10 Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters — al die manne van Israel;
11 julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,
12 om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God — en in sy eedswering — wat die HERE jou God vandag met jou sluit;
13 sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ’n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het.
14 En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,
15 maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.
16 Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.
17 En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,
18 sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wildeals dra nie,
19 en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel — om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!
20 Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.
21 En die HERE sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.
22 En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ’n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die HERE daarin laat uitbreek het —
23 ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die HERE in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het —
24 en al die nasies sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed?
25 Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is,
26 en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie,
27 daarom het die toorn van die HERE teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is.
28 En die HERE het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ’n ander land, soos dit vandag is.
29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.
Dankie O Vader, vir die krag en die moed en die wil om U gebooie te onderhou sodat ons ‘n stil en ‘n rustige en in alle Godsvrug en waardige lewe mag ly terwyl ons nog hier in ons tydelike wonings lewe,
waartoe Paulus ons ook vermaan het dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense, want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom, amen.
