In Markus 6 lees ons dat Jesus sy tuisdorp (“vaderstad”) Nasaret besoek het. Daar is hy nie baie goed ontvang nie, trouens, Hy is daar verag! Sy besoek aan Nasaret moes vir Hom ‘n ontnugtering gewees het.
Verder lees ons dat die mense van Nasaret verslae was oor sy leringe, maar nie tot geloof gekom het nie. Hulle het aanstoot aan hom geneem! Jesus was verbaas en verwonderd oor Nasaret se ongeloof en het nie een wonderwerk in Nasaret kon doen nie. Hy het wel ‘n paar siekes gesond gemaak.
Die vraag kom onmiddellik by ‘n mens op waarom Jesus, as Seun van God, dan verbaas sou wees oor so-iets en waarom Hy nie wonderwerke kon doen nie, selfs te midde van ongeloof. Wel, Hy was nie verras nie, maar dat hulle ongelowig is, is steeds verbasend. Selfs vir Jesus die mens. En omdat hulle Hom verwerp het, vind Jesus dit nie geleë om wonderwerke daar te doen nie.
Jesus het nie wonderwerke gedoen nie omdat Nasaret nie in Hom geglo het nie. Hy kon wonderwerke doen as Hy wou, maar weens Nasaret se ongeloof het Hy nie.
Baie Afrikaners glo in God Drie-enig, dalk steeds die meerderheid van ons volk. Of glo ons werklik? Is daardie geloof nie maar meer van ‘n vrees wat ons koester, of ‘n voorskrif wat ons van die rak afhaal as dit somtyds donker in ons lewens is nie? Is die rede waarom wonders nie met ons volk gebeur, nie miskien omdat ons as volk ons rug op God gedraai het nie? Daar gebeur nie wonderwerke nie omdat ons as volk nie in God glo nie! Dalk is God ook vandag verbaas en verwonderd oor hierdie volk se ongeloof. Nie verras nie, maar verbaas. Miskien is Hy nie so verbaas oor die land as geheel se ongeloof nie, maar gegewe ons volk se geskiedenis, naamlik een waarin ons deurgaans ons afhanklikheid van God verklaar en geopenbaar het, maar in 1994 afgesweer het, is God waarskynlik baie verbaas oor ons ongeloof.
Ons sê dikwels dat Bloedrivier ‘n wonderwerk was. Daardie wonder het gebeur omdat ‘n volk biddend en strydend in Hom geglo het. Oor die manne van Bloedrivier was Jesus nie verbaas nie. Oor ons volk van vandag se ongeloof dalk wel.
Ons volk het soveel rede om in God te glo. Soveel rede om te besef dat slegs Hy ons sal uitred uit ons nood. Soveel rede om te weet dat slegs ‘n Godswonder ons weer sal bevry uit die kake van hierdie bose magte. Laat ons biddend na Hom opkyk en werkend doen wat ons hande vind om te doen!