Afrikaner

ONS KENNIS VAN GOD

Bybel1 Kor. 15:1-58:“Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.” (:34).

Paulus spreek die Korinthiërs in hierdie brief reguit aan oor ’n gebrek onder sommige van hulle. En dit is hul gebrek aan kennis van God. Die Korinthiërs was ongelukkig nie die laaste mense wat met reg hieroor aangespreek moes word nie. Hierdie is ’n saak waaroor die meeste mense in ons tyd, ook onder ons eie volk, in ons dae aangespreek behoort te word.

 

Geliefdes, ons lees in Hos. 4:1 waar God ook Sy volk oor hierdie saak skerp aanspreek. “HOOR die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het ’n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.” Hoeveel ware kennis van God is daar vandag onder ons volksgenote, geliefdes? Verkies mense nie gerieflikheidshalwe om hul kennis van God te beperk tot Christus se soenoffer om hulself daarmee te troos dat al hul sondes vergewe is bloot omdat Hy aan die vloekhout gesterf het nie?

So ’n selektiewe kennis van God sal die mens ongelukkig baie duur te staan kom, geliefdes. Dit kan jou die ewige saligheid kos. Mense verkies gerieflikheidshalwe om hul kennis van God se insettinge en gebooie te beperk, want sodoende probeer hulle die opofferings wat saam met ’n lewe van toewyding aan God kom, vermy. En ander se kennis van God is beperk gewoon omdat soveel ander dinge ’n hoër prioriteit as God in hul lewe geniet. Dit is gewoon nie vir hul belangrik genoeg om dit na te speur en tyd daaraan af te staan nie. En dan wonder ons waarom ons volk te gronde gaan? En ons staan verbaas dat die toekoms vir ons nageslag in hierdie land uitsigloos lyk. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hos. 4:6).

Ons lees in Hos. 6:6 waar God dit ook duidelik stel hoe groot Sy behae in kennis van Hom is. “Want Ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” ’n Grondige kennis van Hom is immers nodig om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. Dink maar aan die volk Israel wat onder die leiding van die Skrifgeleerdes en Fariseërs onder die wanindruk gebring is dat God ’n behae in hul godsdiens gehad het wat maar net ‘n uiterlike godsdienstige vertoon was. Daar was in hul godsdienstigheid min tot geen ruimte vir versoening met God sodat die mens in ’n gesonde verhouding met Hom kon leef nie. Hulle sou veel eerder die mense deur hul dwaalleer tot hul eie voordeel gevange wou hou.

Die lering en kennis van versoening met God is deur die prediking van Johannes die Doper aan die volk openbaar. Hy, Johannes, sou hulle hierdie kennis van saligheid leer. Hy sou hulle leer van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die Een deur Wie daar versoening tussen God en mens is. “En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.” (Luk. 1:76-79).

Geliefdes, kan ons volk weereens nie met hierdie woorde uit Lukas 1 vereenselwig nie? ’n Volk wat in duisternis en doodskaduwee sit. Die sportstadions en plekke van vermaak is propvol en die kerke dolleeg, want dit is hoe ons prioriteite daar uitsien. Ons sal duisende rande vir kinders se sport opoffer, maar ’n tiende aan God afstaan, is “’n wet van die Ou Tetsament”. Die sogenaamde “kerke” wat ’n leer van voorspoed verkondig en waar die mens die sentrale fokuspunt is, is tot oorlopens toe vol terwyl die kerke waar die Woord van God in waarheid geleer word en waar van sonde, oordeel, opoffering, diensbaarheid aan God, geregtigheid gepreek word nie dieselfde daaruitsien nie. Daarbenewens word mense gelaat om hulself te tatoeër, te hoereer en ’n lewe van ongebondenheid te leef terwyl hulle getroos word dat God ’n God van liefde is wat kwansuis met enige tipe gedrag van die mens gewoon tevrede sal wees. Vrouens en homoseksuele word op die kansel toegelaat asof dit vir God welgevallig sou wees terwyl die Woord van God hieroor baie duidelik is en ’n redelike kennis van Hom die mens tot die besef en insig sou bring dat Hy nie daarin ’n behae het nie.

En is hierdie wanopvattinge van God nie gesetel in ’n gebrek aan kennis van Hom nie, geliefdes? En die resultaat daarvan is eindelik ’n volk en ’n mensdom wat van God heeltemal vervreem word. Die hartseer werklikheid is dat die mens van ons tyd waansinnig genoeg geraak het om te dink dat God ’n klomp vreemdelinge in Sy hemelse koninkryk sal verwelkom. En dit boonop ’n klomp vreemdelinge wat hier op aardie nie werklik iets met Hom te make wou hê nie.

Geliefdes, laat ek en u nie dieselfde fout as die wêreld rondom ons maak en die kennis van God minag nie. Maar laat ons met opregtheid daarna soek om ons kennis van Hom te vermeerder sodat ons verhouding met Hom ook daardeur sterker en hegter mag word. En mag ons kennis van Hom ook lei tot ’n groterwordende liefde vir Hom en ons ook sterk teen die vloedgolwe van dwaalleer wat oor die samelewing spoel. Laat ons genoeg erns hiermee maak sodat ons in waarheid kan bely dat ons Hom ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus deur Wie ons die ewige lewe sal vind. “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Joh. 17:3).

Amen.