Rigt. 6:1-40: “En die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die Here is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vanders ons van vertel het, deur te sê: Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die Here na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?
Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die Here vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” (:12-16). Wanneer God aan Gídeon verskyn, vind Hy ’n moedelose man. Hierdie man is moedeloos en bykans verslae oor die plundering van die Midianiete en Amalekiete in wie se hand God hulle gegee het. Hierdie moedeloosheid van Gídeon is duidelik waarneembaar uit sy reaksie wanneer hy deur die Engel van God begroet word. “...Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons dan vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” (:13). Maar in hierdie moedelose, dog baie eerlike aantwoord van Gídeon is daar vir ons verskeie kosbarhede opgevat.
Gídeon lewer ten eerste getuienis van God se liefderyke barmhartigheid, goedertierenheid en vaderlike sorg. As die Here met ons is sou ons mos liefderyk deur Hom versorg gewees het. As die Here met ons is sou Sy goedertierenheid en trou mos ons deel wees. Maar nou is hierdie volk geplaag met onheil, teëspoed en plundering. En aangesien laasgenoemde nie die wese van God is nie was dit vir Gídeon die logiese afleiding dat sy volk in hierdie toestand van ellende verkeer omdat God nie in hul midde is nie. Desnieteenstaande het Gídeon se geloof in God nie gekwyn nie. Hy het nie vir een oomblik gedink dat die slegte omstandighede van sy volk ’n tekortkoming aan God se kant was nie, maar besef dat die tekortkoming by sy volk lê. En in hierdie ellendige toestand het Gídeon terug gedink aan die wonders waarvan sy vaders hom vertel het. En in hierdie nagedagtenis en geloof in God se wonders het Gídeon se krag gelê. “Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” (:14). Gaan, Gídeon – in hierdie geloofskrag van jou en verlos jou
volk uit die hand van hul vyand. Hierdie man se krag was nie in sy besonderse selfvertroue of besonderse vermoë in krygskuns nie. Sy krag was nie daarin dat hy oor die vermoë beskik het om sy volk soos een man te monster en met hierdie eenheid die vyand om te stoot nie. Hierdie man se krag was in sy stille vertroue en geloof in God. “Want so sê die Here Here , die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag;...”. (Jes. 30:15). Wanneer Gídeon deur God die opdrag ontvang om Israel uit die hand van die Midianiete te verlos, trek hy nie met ’n oorywerige selfversekerdheid terstond teen die vyand op nie. Hy raadpleeg God verskeie kere om doodseker te maak dat hy nie uit eie beweging optree nie, maar dat dit wél in opdrag van God is. En telkensbevestig God aan Gídeon die teken waarna hy gevra het om hom die versekering te gee dat God met hom sal wees.
“Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ’n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is. En die HERE het daardie nag so gedoen: op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou.” (Rigt. 6:39&40). Gídeon tree dan ook uiteindelik met hierdie versekering dat God met hom is soos ’n groot en dapper held na vore om die vyand te verslaan. Ek glo dat daar menige van ons is wat met die lewe van Gídeon in ons tyd kan vereenselwig, geliefdes.
Ons lees van die moorde onder ons volk, die plundering en verwoesting onder ons volk. En dit laat ons menigmaal bedruk, moedeloos en verslae voel. Wanneer ons dan boonop die onenigheid en verval binne ons eie volk sien, sak ons moed selfs nóg laer af. Maar laat ons ook uit die lewe van Gídeon vandag daaraan herinner word om nie die oorsaak van die onheile in ons volkslewe by God te soek nie. Laat ons eerder stil word en biddend in Sy Woord soek na antwoorde van God waarom Hy nie onder ons volk woon en in ons midde is nie – die omstandighede wat ons omring getuig tog duidelik daarvan. Maar laat ons ook volgens die voorbeeld van Gídeon met ’n stille vertroue op Hom bly hoop en ons krag in ons vertroue en geloof in Hom vind. Laat ons gedurig besiel en versterk word deur terug te dink aan God se wonderdade en beloftes en daaraan vashou.
“Want die Here sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.” (Deut. 32:36). Mag ons ook so versigtig as Gídeon wees om nie uit eie beweging en uit eie krag in ons omstandighede op te tree nie, maar mag ons ook bereid wees om met God aan ons kant in gehoorsaamheid aan Hom so getrou en beslis as Gídeon op te tree wanneer God dit wel van ons eis.
Amen.