I KONINGS 18:21 (AFR53)
En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.
JEREMIA 31:22 (AFR53): Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die Here het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.
Daar word môre op Woensdag 29 Mei 2024 weer in Suid Afrika onder die beheer van ‘n onwettige regime, op onwettige wyse gestem sodat die onwettigheid in ons land kan voortduur, ad infinitum!
Hoe lank, Afrikanervolk, hoe lank wil u nog hink op twee gedagtes? U het môre weereens die geleentheid om nee te sê vir hierdie onreg deur as ‘n verontregte volk dit vir die wêreld te kenne te gee deur gesamentlik as ‘n volk nie te gaan stem nie!
Vir julle wat voorloop en goedgelowige mense agter julle aansleep, wil die AVP vandag onomwonde sê, neem kennis van 1 Konings 18:21! “Maar die volk het hom nie geantwoord nie”.
As ‘n volk is u male sonder tal gemaan, gesmeek, gewaarsku reeds sedert 1912 tot vandag toe dat die integrasie pad ‘n pad is wat vernietig, verwoes, verdraai, verwring en uiteindelik sal verdring! U kies tussen reg en onreg, tussen verval en vooruitgang, tussen barbarisme en beskawing. Dit is reeds sigbaar en selfs voelbaar rondom u!
Ons waarsku opnuut! Daar is géén party wat geregistreer is om aan hierdie bespotlike verkiesings te kan deelneem, wat vir ons volk se vryheid en soewereine onafhanklikheid enigiets kan of sal beteken nie! Die oplossing setel in ons gesamentlike verset en die verkiesing bied vir ons die geleentheid om dit te demonstreer deur nie daaraan deel te hê nie.
Ons is reeds by Jeremia 23 waar die vrou die man moet beskerm omdat die mans in Suid Afrika agter die Baäls aankruip! Ons heil lê nie in die akademia’s, ongelowige howe en hofamptenare, verdwaalde predikante en kerke en akademici nie. Nog minder setel dit by verwarde, skelm, oneerlike en sameswerende politici nie.
Ons krag setel in gehoorsaamheid aan ons hemelse Vader se eeue oue riglyne wat in sy Lewende Woord vir ons opgeteken is. Ons geskiedenis spreek van Sy onbaatsugtige, barmhartige en genadige ondersteuning tot volkswording, taalskepping, werkskrag, vindingrykheid en die vermoë tot instandhouding wat opgebou is deur Sy bystand en beskerming! QUO VADIS AFRIKANER??