Jes. 29:1-24: “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil. Wee hulle wat planne diep verberg vir die Here, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons? o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?” (:13-16).
Dit waaroor die HERE Sy volk in die tyd van Jesaja aangespreek het, is ongelukkig vandag ook in ons samelewing ’n algemene gesig. Daar is nie alleen mense wat hul heeltemal van die Godsdiens afgekeer het nie, maar ook baie mense wat alleen op oppervlakkige wyse by die Godsdiens betrokke is. Ons is gewoond om op Sondae kerk toe te gaan. Ons is gewoond om dan en wan Bybel te lees. Daar is ’n kennis van God se wette en daar word oor Hom gepraat, Hy word met die lippe geëer, maar Hy word nie met ’n heelhartige oorgawe gedien en geëer nie.
Geliefdes, die HERE spreek by monde van die profeet Jesaja Sy volk aan oor die feit dat hul verhouding met Hom ’n aangeleerde mensegebod is. Hulle ken die reëls van die Godsdiens, maar hul wy nie hul lewens aan die God van die Godsdiens toe nie. En hieroor word die volk van God aangespreek. Hulle ken die gebooie van God, maar tog probeer hul om hul lewensplanne vir God te verberg en ken hulle God nie in hul lewens en besluite nie. Die maaksel dink dat hyself beter weet as Sy Maker wat vir hom in hierdie lewe goed is.
Die HERE maak dit vir ons deur Sy Woord duidelik dat ons Godsdiens oor veel meer gaan as om net gewoon Sy gebooie slaafs na te volg. Hy wil hê dat ons in ’n lewende verhouding met Hom moet staan en uit liefde aan Hom gehoorsaam moet wees. Hy wil hê dat ons Hom as ’n Vader moet liefhê, ten volle moet vertrou en sodoende moet eer. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” (Ps. 32:8). Ons moet ons hulp en raad in die lewe by Hom soek en nie op onsself, ons eie insig of rykdom vertrou nie.
“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5). Liefde en vertroue loop hand-aan-hand geliefdes. Ons kan nie met waarheid sê dat ons die HERE met ons hele hart, siel en gees liefhet en Hom dan nie vertou nie. Ja, om ’n ander onvoorwaardelik te vertrou is sekerlik een van die grootste eerbetonings wat ’n mens aan ’n ander kan bewys. En God verwag hierdie eerbied van ons in ons verhouding met Hom. Dit het Hy duidelik in Maleági 1:6 aan Sy volk gestel. ‘n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? ...”. En dit kan seker nie meer duidelik vir ons gestel word as in die woorde van Ps. 50:15 nie. “en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Roep My aan in die dag van benoudheid, m.a.w. vertrou op My – Ek sal jou uithelp en jy moet My eer.
Twee opdragte van God se kant – vertou op My en eer My. Geliefdes, hoeveel mense wat Sondag in die kerk sit, vertrou ook van Maandag tot Saterdag met hul hele hart op God? Hoveel kerkgangers ken God daagliks in hul lewens en in die besluite wat hul moet neem? Hoeveel mense neem hul besluite in vertroue op God se leiding eerder as om dit a.g.v. ’n vertroue in hul eie vermoë, insig, krag of rykdom te doen? Hoeveel mense erken Hom as die Pottebakker in Wie se Hand ons soos klei is? Dink maar aan die voorbeeld wat onse Here Jesus Christus vir ons hierin gestel het. In Getsémané pleit Hy voor God om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan.
Hy stel Sy vertroue in hierdie uur van nood volkome op die Vader. Maar Hy onderwerp Homself ook terselfdertyd met diepe en opregte ootmoed aan die volmaakte wil van God die Vader – ’n ware vertroue dat die Vader se wil eindelik die beste en volmaakte is. “... Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk. 22:42). Hy kon daarom met opregtheid en waarheid bely dat Hy die Vader eer.
Ek hoop dat hierdie vermaning uit God se Woord ook vandag vir my en u tot stilstand bring om in waarheid ons lewens en ons Godsdiens voor God in oënskou te neem. Laat ons met eerlikeid ons lewens beoordeel en vasstel of ons ook net op oppervlakkige wyse die reëls van Godsdiens navolg en of ons werklik in ’n lewende verhouding met Hom staan. Hy roep ons tot veel meer as ’n slaafse en aangeleerde gewoonte van godsdienstige reëls, geliefdes. Hy roep ons tot ’n lewende verhouding met Hom, ons liefdevolle Vader wat al ons eer waardig is en op Wie ons onwrikbaar kan vertrou.
Amen.