Hand. 5:1-16: “MAAR 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffira 'n eiendom verkoop, en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (:1-4).
Ons lees hier van ’n geweldige tragiese gebeurtenis, geliefdes. ’n Man en sy vrou wat binne ure van mekaar sterwe. En dit nadat hulle ’n groot finansiële bydrae tot die vroeë kerk gemaak het! ’n Tragiese gebeurtenis waaruit ons ’n baie, baie belangrike lering moet aanneem, nl. dat die gesindheid waarmee ons optree nie minder belangrik is as dit wat ons doen nie. Ons lees in 1 Kronieke 29 waar koning Dawid en die volk ook groot bydraes tot die bou van God se tempel gemaak het. En hier lees ons ook dat die gesindheid in hierdie saak van groot belang is. “En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het.” (1 Kron. 29:17).
Dawid meld dat hy wel bewus is daarvan dat God sy hart gaan toets in die afstaan van hierdie gawes en dat God sal raaksien met waƩer gesindheid hy optree. Dawid weet dat dit onmoontlik is om die ware gesindheid in ons harte vir God te verberg. “ ...Want Hy ken die geheime van die hart.” (Ps. 44:22). Dawid meld verder dat hy bly is om te sien dat die gesindheid waarmee die volk hulle gawes bring ook suiwer is. En hoe kosbaar is Dawid se versoek aan God in vers 18 nie wat vir ons verder die belangrikheid van ons gesindheid teenoor God duidelik onderstreep. “Here, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so 'n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U;”.
Dit is duidelik uit Petrus se antwoord aan Ananías dat die verkeerdheid nie daarin gelê het dat hy nie die volle koopsom aan God afgestaan het nie, maar eerder daarin dat hy God bedrieg het, geliefdes. “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?” Dit sou beter gewees het as hulle glad nie die eiendom verkoop het nie of selfs die volle koopsom teruggehou het. Maar omdat Joses en ander gelowiges hul eiendom verkoop en die opbrengs aan die gemeente geskenk het wou Ananías en Saĺra nie terugstaan en teenoor die ander sleg lyk nie. En toe tree hulle, in plaas van in ’n opregte liefde teenoor God, ter selfverdediging van hul eie aansien op ’n bedrieglike wyse op en dit het God se toorn teen hulle laat ontvlam.
Geliefdes, Christus spreek ook hierdie saak van ons gesindheid in Lukas 18:9-14 aan. Hy stel hier die gesindheid van selfvoldaanheid en hoogmoed van die Fariseër teenoor die nederigheid en opregtheid van die tollenaar. Dit is hier duidelik dat die sonde wat tussen God en die tollenaar gestaan het verwyder kon word omdat sy gesindheid teenoor God reg was. Maar dit is juis die verkeerdheid in gesindheid in die lewe van die Fariseër wat daartoe gelei het dat hy met sy sonde en al weer van God weggegaan het. Die Fariseër se verkeerde gesindheid het verhoed dat die sonde wat tussen hom en God staan, verwyder is.
“En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee Ɵendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een;...”. (Luk. 18:11-14).
Geliefdes, ek sluit vir ons af met ’n laaste voorbeeld uit die lewens van koning Dawid en Saul. Saul was die eerste koning oor Israel, maar sy koningskap was van korte duur. Die mooi en nederige gesindheid wat aanwesig was toe hy as koning gesalf is, het vinnig verdwyn toe hy ’n man van aansien geraak het. En Saul se koningskap was daarom ook van korte duur toe God ’n ander koning, ’n koning met die regte gesindheid teenoor God, vervang het. “Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie.” (1 Sam. 13:14). Ons is wel bewus daarvan dat Dawid nie sonder sonde en tekortkominge was nie.
Maar, geliefdes, die Woord getuig duidelik daarvan dat Dawid se gesindheid teenoor God reg was. “En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, met 'n volkome hart en in opregtheid ...” (I Kon. 9:4). Laat ons hierdie vermaning uit die Woord van God ter harte neem en die gesindheid in ons harte ondersoek en in waarheid beoordeel, geliefdes. Dit is van kardinale belang in ons gesonde verhouding met Hom. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil 2:5-8).
Amen.