Markus 4:1-20: “En hulle by wie in die dorings gesaai word – dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is – hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig.” (:18-20).
Geliefdes, hierdie jaar staan alweer op sy kop. Asof in ’n oogwink is nog ’n jaar verby. Ek is seker dat ieder en elk van ons seker aan die einde van elke jaar begeer dat die komende jaar net effe rustiger kan wees. Daar is dan net soveel dinge wat ons nog graag wil doen, maar gewoon nie tyd voor vind nie. En hoe gepas is hierdie gelykenis van Christus dan nie juis in só ’n tyd nie. Christus vertel hier van ’n saaier wat uitgaan om te saai. En daar is ’n deel van die saad wat langs die pad val, daar is ’n deel wat op rotsagtige plek val, ’n ander deel wat tussen die dorings val. Daar is dan ook eindelik ’n deel van die saad wat in die goeie grond val en hierdie is ook die enigste wat vrug oplewer.
Ons is in hierdie lewe dalk ook dikwels so besig met ons verantwoordelikhede, ons strewe om suksesvol te wees. Ons spandeer ook baie tyd daaraan om te probeer om gelukkig te wees en om die lewe te geniet. Maar hoeveel van hierdie dinge waaroor ons besorg is, hoeveel van hierdie begeerlikhede en verleidinge van die lewe beroof of weerhou ons dalk ook moontlik van ’n vrugtevolle lewe in Christus? Dit behoort nie so te wees in die lewe van gelowige kinders van God nie, geliefdes. Hierdie mooi dinge soos ons gesinne en geliefdes, ons stoflike besittings, ons sukses moenie ons fokus wees nie – dit is gawes uit God se Hand.
Hierdie is dinge waarvoor ons dankbaar moet wees, nie dinge waarna ons moet strewe nie. God verwag van ons om ’n lewe te leef waaruit daar ’n vrugtevolle opbrengs sal wees. Dít moet ons strewe wees. Hierdie opdrag van Hom is duidelik. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” (Joh. 15:8). “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly,...” (Joh. 15:15). Ons lees in Hos. 9:16 van God se ontevredenheid met Efraim wat vrugteloos geword het. “Efraim is getref, hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie;”. En die onaanvaarbaarheid van ’n vrugtelose lewe word ook vir ons duidelik in Joh. 15:2 geleer.
“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” Daarenteen verduidelik hierdie vers ook vir ons dat God die lote wat wel vrug dra skoon maak sodat dit méér vrug kan dra! Hoe duidelik is Sy behae in ’n vrugtevolle lewe nie. Dit word vir ons in Kol. 1:9&10 verder beklemtoon. “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei.”
Ons leer selfs uit Gal. 5:22 hoe hierdie vrug vanuit ons lewens lyk wat God wil sien, geliefdes. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22). Daarbenewens onderrig die HERE ons ook in Joh. 15:4&5 dat ons nie uit onsself tot ’n vrugtevolle lewe instaat is nie. Dit is die saad van Sy Woord wat in ons lewens gesaai word wat deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens goeie vrug sal oplewer. “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Geliefdes, kom ons maak seker dat ons in ons lewens ook alles op die regte plek kry. Ja, laat ons van die mooi dinge, die dinge wat vir ons kosbaar is bewus wees en dankvoor dankbaar wees sonder om dit ons strewe te maak. En laat ons vrugtevolle lewe in Christus nie iets sal wees waarvan ons alleen weet of bewus is nie, maar mag dít ons strewe wees. “En juis daarom moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;” (2 Pet. 1:5-8).
Amen.