1 Kor. 10:1-13 “… want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.” (:4).
Geliefdes, ons almal is wel bewus van die feit dat water vir elke lewende organisme in hierdie skepping ‘n onmisbare hulpbron is. Daarsonder sal ons lewens in ‘n baie kort tydjie heeltemal vergaan. En so was die volk Israel ook in hul reis deur die woestyn onderweg na die beloofde land baie bewus van die belangrikheid van water as ‘n hulpbron. Hulle het dan op ‘n stadium met Moses en Aäron getwis omdat daar vir hulle geen water was nie. En die HERE het aan Moses en Aäron bevel gegee om die rots aan te spreek sodat daar vir die volk water uit sou vloei. “ Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink.” (Núm. 20:8).
Geliefdes, hierdie is so ‘n pragtige skadubeeld en heenwysing van die lewende water wat vir ons uit die ewige Rots (Christus) sou vloei soos in 1 Kor. 10:4 gelees. En so lees ons in Joh. 7:37 waar Christus die uitnodiging aan die mens rig om na Hom, die Rots waaruit strome van lewende water vloei, te kom om van die lewende water tot verkwikking van ons siele te neem. “...As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” En ewe duidelik stel Christus dit in Joh. 4 aan die Samaritaanse vrou dat Hy die bron van lewende water is waaruit die mens moet drink. Hy maak dit ook duidelik dat hierdie lewende water wat ons van Hom ontvang, ‘n gawe van God is. “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” (Joh. 4:10).
Ons sien egter in ons tyd dat die mens nie hierdie kosbare gawe van God, die lewende water, na waarde ag nie. Ons sien hoedat mense se siele van dors verkwyn, maar hul wend hulself nie na die Bron waaruit hulle verniet van die lewende water kan geniet nie. Nee, veel eerder soek hulle ‘n uitweg langs allerhande ander weë in die lewe in plaas daarvan om hul in Hom te verlustig en hul siel met die lewende water te verkwik. Ja, die profeet Jeremia het hierdie selfde kommerwekkende optrede onder sy volk in sy leeftyd gesien, geliefdes. En die HERE het Sy volk ook hieroor aangespreek. “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” (Jer. 2:13).
Dit is nie alleen die individu wat nie meer hierdie kosbare lewende water in ons tyd na waarde ag nie, geliefdes. Dit is ongelukkig ook in baie gevalle die voorgangers, sogenaamde leraars, wat hierdie lewende water na buite gooi en aan mense gifwater gee om te drink. En so word mense se siele met dwalleer en gifwater vergiftig en besmet in plaas daarvan dat hul siele met die water van die lewe verkwik word. “maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra. Daarom, so sê die Here van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.” (Jer. 23:14&15).
Geliefdes, die HERE Jesus Christus het dit in Matt. 16:18 baie duidelik gemaak waarop Sy gemeente, Sy koninkryk gebou sal word. “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Ja, baie duidelik was hierdie woorde van Christus op Petrus se belydenis dat Hy (Jesus) die Christus, die Seun van die lewende God is. En hierop bevestig Christus dat Hy op hierdie Rots, waaruit die strome van lewende water sal vloei, Sy gemeente sal bou. Dit is uit hierdie geestelike Rots alleen waaruit ons tot verkwikking van ons siele moet drink, geliefdes! Ware gelowiges durf nóóit hierdie Bron van lewende water verlaat nie, want die gevolg daarvan sal wees dat ons siele van dors sal verkwyn. Die HERE waarsku ons in Jeremia 17:13 duidelik hierteen. “O HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” Ons durf nóóit vir ons alternatiewe, ander reënbakke soek om uit te drink nie. Nee, veel eerder moet ons begeerte wees om te bly by die fontein, die Rots, waaruit lewende water vir ons vloei.
Geliefdes, mag die woorde van hierdie oordenking ons vandag opnuut bewus maak van die waarde van hierdie gawe wat ons uit die Hand van God ontvang. En mag ons hierdie gawe in die lewe koester en ons verlustig in die waterbeke wat God vir ons uit die Rots laat vloei. Hierdie verkwikkende water uit die Rots wat soos strome van lewende water binne ons sal word wanneer ons ons siele gedurigdeur hiermee verkwik. “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38).
Amen.