Judas : 17-25
“maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet
julle haat wat deur sonde bevlek is.” (:23).
Die propaganda van die Nuwe Wêreldorde leer vir ons dat ons alles en almal moet liefhê en alles en almal moet verdra. Hierdie is gewoon ‘n baie slinkse plan van Satan waarin hy sy dienaars inspan om enige weerstand teen en weersin in sonde en ongeregtigheid af te breek. Hy weet dat indien hy hierin sou slaag hy die mens kan oortuig dat hy nie eintlik ‘n vyand van die mens is nie. Hy sal homself voordoen as hierdie gawe een wat jou nie veroordeel nie en jou net altyd in die gehoor streel. Hy laat jou goed voel oor jouself deur aan jou te vertel wat jy wil hoor – of dit tot jou beswil is of nie. Hy sal homself as ‘n engel voordoen waarvoor die mens geen vrees hoef te koester nie. “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.” (2 Kor. 11:14). Wee hom wat nie op sy hoede is vir hierdie bedrieglike vyand nie! Is dit nie presies op hierdie wyse dat die satan vir Eva verlei het nie? Hy het homself nie as ‘n skadelike gedrog voorgedoen waarvoor sy
onmiddellik op vlug geslaan het nie!
Ek dink dat ons met redelike sekerheid kan getuig dat daar geen groter vyand is as daardie een wat nie as sulks beskou word nie. Vandaar die bekende spreekwoord – “Die makste hond byt die seerste.” Nou is dit presies waarin die satan ook in ons tyd slaag. Hy oortuig die mense van ons tyd dat hy mak en onskadelik is. Daar is geen rede om hom te vrees nie. En elkeen wat hierdie leuen glo, ja al sit u ook elke Sondag in die kerk, maak die Woord van God tot leuenaar omdat Hy presies die teenoorgestelde van Satan getuig. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (Jak. 5:6).
Die satan wil die mens laat glo dat ons in ‘n tyd van groot vrede leef. Ons word tog nie met ‘n dreigende oorlog in die gesig gestaar nie? Is u seker hiervan? Ek verskil. ‘n Oorlog word aan verwoesting en ellende gekenmerk. En as ons dan in geen oorlog gewikkel is nie – as daar dan geen skerp aanval van die satan is nie – hoe verduidelik ons die volgende:
Hoe verduidelik ons die ontsettende hoeveelheid gebroke huwelike? Huwelike wat vernietig is – was dit nie Satan se vernietigingswerk nie?
Hoe verduidelik ons die bykans algehele verwoesting van heilige instellings van God soos die Sabbat, die huwelik tussen een man en vrou, en dies meer? Die gawe, skadelose ou duiwel sal tog nie so iets doen nie?
Hoe verduidelik ons die ekonomiese vernietiging wat wêreldwyd posgevat het a.g.v. mense se hebsug, gierigheid en magsug? Dit is tog nie die gawe, skadelose ou duiwel wat hierdie mense daartoe aangehits het nie?
Hoe verduidelik ons die mishandeling van kinders deur hulle gesonde tugtiging deur wetgewing te ontneem? Die gawe, skadelose ou duiwel sal tog seker nie wil sien dat ‘n kind tugteloos groot gemaak word nie, want dit sal sy stryd om hierdie siel tog soveel “moeiliker” maak nie waar nie?
Hoe verduidelik ons die hoeveelheid mense wat in verslawing van dwelms, drank, verdowingsmiddels, medikasie, Pornografie, dobbelary en dies meer vasgevang is? Is dit die gawe ou duiwel wat sien dat hulle hul lewens geniet of is dit die skadelike, brullende leeu wat hulle eersgenoemde laat glo terwyl hy hulle in hul siel uitmekaar skeur?!
Geliefdes, as u vanoggend werklik glo dat daar nie ‘n oorlog rondom ons woed nie en dat die satan en sonde onskadelik is, stel ek dit vir u onomwonde vandag dat u heeltemal te min tyd daaraan spandeer om God se Woord te bestudeer. U verkwis bes moontlik gans en al te veel tyd aan televisieprogramme, “Youtube” en dergelike vermaak dat u nie eers die gevaar
rondom u bemerk nie. Indien u hoor dat daar ‘n dief besig is om by u huis in te breek, sal u nie inderhaas ‘n plan beraam om op te tree om u en u geliefdes teen leed te beskerm nie?
Indien u dan vanoggend hoor dat die satan soos ‘n dief en rower lê en loer om u geliefdes se siel vir die verderf te steel, is u nie veronderstel om daadwerklik op te tree nie? Ek en u kan gerus by koning Dawid gaan leer dat dit nie ‘n sonde is om die ongeregtigheid en vyande van God te haat nie. “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps. 139:21&22). Ons moet besef dat dit die kosbare bloed van ons geliefde Here Jesus Christus gekos het om my en u lewenskleed skoon te was. “…Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Open. 1:5). Sou ons nie die satan daarvoor haat dat
hy alles in sy vermoë doen om weer hierdie spierwit, rein kleed te bevlek nie? Indien dit werklik vir ons kosbaar is, sal ons dit tog ten alle koste wil koester nie waar nie?
Dit is baie belangrik dat ons begin verstaan dat die satan nie so onskadelik is as wat hy homself voorgee om te wees nie. En ewe belangrik dat God nie so “oraait” met die sonde is as wat ons mensdom vandag wil glo dat Hy is nie. Hy beveel ons om die kleed wat met sonde bevlek is te haat. Ons moet m.a.w. ‘n baie sterk afsku daarvan hê. Ons behoort ‘n weersin daarteen te hê. Ons moet daarmee niks te make wil hê nie. “… en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1 Tim. 5:22). Ons moet dit van ons af weg werp. “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. …” (Mark. 9:43).
Ons hoef nie ons sondes vir die Here te probeer verberg nie omdat Hy dit haat nie. Dit sal vir ons van geen heil wees nie. Eerder behoort ons daardie vuil kleed voor Sy voete te lê. Dit moet ons doen met die ware besef van ons oortreding en ons verkeerdheid. Dit moet ons doen met ‘n ware berou omdat ons die kleed wat Hy ons aangetrek het besoedel en bevlek het. En ons behoort Hom te pleit om hierdie kleed wat ons besoedel en bevlek het van ons weg te neem en skoon te was om daarna aan ons ‘n nuwe, skoon kleed te gee.
“Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Daarop sê ek: Laat hulle ’n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die HERE daarby staan.” (Sag. 3:4&5).