Matt. 26:17-30
“Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (:27&28).
Die Here Jesus Christus gee aan Sy dissipels die beker met die opdrag om almal daaruit te drink. Hierdie instelling word deur ons Heer en Meester self gegee sodat ons deurgaans daaraan herinner kan word dat onsaan Hom deel het. Ons behoort hierdie beker uit die Hand van die Here met dankbaarheid, met nederigheid aan te neem. En ons is terselfdertyd veronderstel om hierdie beker te neem tot nagedagtenis aan Hom. “Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” (:25).
Dit gebeur so maklik dat iets, ja ook selfs die mooiste instellings, vir ons as mense net ‘n gewoonte word. Dit word ‘n gebruik – iets wat ons maar met vasgestelde tydintervalle doen. ‘n Ritueel. Dink maar hoeveel gebede voor ete maar net uit gewoonte gedoen word, omdat mense so grootgeword het. Daar is mense wat Sondae kerk toe gaan, maar net uit gewoonte. Daar is mense wat deel het aan die nagmaal, skandelik om te sê, maar ook net uit gewoonte. Indien voormelde stelling onwaar is, sou die kerk met sy lidmate vandag heeltemal anders daar uitgesien het. ‘n Mens wat waarlik deel het aan die Here, wat die beker van verlossing uit die hand van die Here met erns aanneem, sal smag om elke dag uit hierdie beker te drink. Hy sal nie net met spesiale geleenthede by die kerk of net op Sondae hierdie beker van die Here wil drink en die res van die week hom wil verlustig aan die beker van die duiwels nie.
Die beker wat die Here Jesus Christus aan Sy dissipels gegee het, was verteenwoordigend van Sy bloed wat vir ons uitgestort is. Dit is ‘n beker vol van barmhartigheid. ‘n Beker tot oorlopens toe vol van genade. Maar ‘n beker wat ons ook moet herinner aan lyding. Die BLOED van onse Here Jesus Christus moes vloei. Dit het nie gevloei deur ‘n baie delikate proses wat deur hoog bekwame mediese personeel uitgevoer is onder ‘n toestand van verdowing nie. Dit het gevloei - uit Sy verminkte, gegeselde, vernielde liggaam het dit gestroom nadat hardhandige, bykans gevoellose soldate Sy hande en voete aan ‘n vloekhout met spykers vasgeslaan het! Daardie vernieling van Hom het Sy bloed uit Hom laat vloei. Dit was nie mooi nie my geliefde broeder en suster. En wat hierdie prentjie wat vir ons geskets word in trane laat verdof, is die besef dat ek en u in ons sondige natuur die rede vir Sy pyn en marteling was! “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).
Daar is in ons tyd ongelukkig soveel mense wat in hierdie beker wat die Here Jesus Christus aan elke mens wil aanbied, spuug. Ja, ook sogenaamde kerkmense. Ek sê hulle spuug in hierdie beker omdat hulle ligsinnige en goddelose lewe daarvan getuig dat die lyding en smart van die Here Jesus Christus vir hulle niks beteken nie. Hierdie sterwe van die Here Jesus Christus gryp hulle nie aan die hart en wek nie in hulle ‘n weersin teen sonde nie. Dit wek nie ‘n diepe droefheid in hulle om te dink dat hul ongeregtighede en sondige lewe die rede vir soveel pyn en leed van ons dierbare Here en Meester was nie! Inteendeel, dit word as ‘n gemaklike verskoning gebruik om in sonde te volhard. Jesus het mos vir my gesterf – ek kan my lewe geniet! Ek sê mos ek glo in Jesus – so ek is gered! Dink maar aan die waarskuwing wat aan diesulkes gerig word in die woorde van Heb. 10:26:”Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir sondes meer oor nie,”. En vers 29 van dieselfde gedeelte sluit versterk hierdie waarskuwing: “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeer hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
Daar is ook diegene wat geen begeerte het na die beker uit die Hand van die Here nie. Hulle het geen begeerte om aan Hom deel te hê nie. Hulle begeerte is veel eerder na die beker uit die hand van die prins van hierdie wêreld. Die beker wat gevul is met wêreldse begeerlikhede en genot. “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery;” (Open. 4:17). Hulle is dalk selfs verwaand genoeg, soos die meeste Skrifgeleerdes in die tyd van Christus se lewe in die vlees hier op aarde, om te dink dat hulle nie die bloed van die Here Jesus Christus nodig het nie.” Hulle glo dat hulle die lewe buite Hom kan vind – dalk in hulself die lewe kan vind. Dink maar aan die dwaalgeeste wat verkondig dat die mens in homself “God” is – hy moet net diep genoeg mediteer en daarna soek. Hulle verag die vermaning en lering van die Here Jesus wat ons vind in Joh. 6:53&54:“En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Ons kry ook diegene wat nie daardie goue beker van die wêreld wat met soveel begeerlikhede gevul is, wil weier nie. Maar hulle wil darem ook nie uit mis op die vreugde van die ewige lewe nie. Hulle verlustig hulle daarom gedurende die weekaan hierdie beker van die wêreld, maar maak seker om Sondae te gaan soek of hulle nie ook uit die beker van die Here ‘n slukkie kan kry nie. Die Here is tog duidelik oor hierdie saak wanneer Hy hierteen waarsku deur die mond van sy dienskneg Paulus in die brief aan die Korinthiërs geskryf: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” (1 Kor. 10:21).
Genadiglik is daar ook die klein klompie wat hierdie beker uit die Hand van die Here met danksegging aanneem. Dit is hulle wat saam met die Psalmdigter die woorde van Ps. 116:13 bely: “Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die Here aanroep.” Hulle verstaan die verlossing wat in daardie beker lê – ‘n verlossing deur die Here Jesus Christus bewerk! Hulle wil ook daarom Sy Naam aanroep, want Hy is hulle Verlosser! Hulle besef hul afhanklikheid van Hom om hulle by te staan in hierdie stryd teen die sonde wat hulle die vyand aangesê het op daardie dag toe hulle begeer het om deel te hê aan die beker en bloed van die Here! Hulle besef dat hierdie beker soms ook vir hulle in die vlees lyding sal inhou, want ons Here Jesus Christus se lewe op aarde wat vir ons tot voorbeeld strek het duidelik getoon dat die stryd teen die sonde menigmaal met lyding gepaard gaan. Ons kan genadiglik telkens drink uit hierdie beker van Hom tot verkwikking en versterking van ons siel wanneer ons kragte min raak. Dit is hulle wat na elke oorwinning wat oor die sonde behaal is nie in hulself roem of op hulself trots raak nie, maar wat na afloop van so ‘n fel stryd hul dors gaan les. Hulle gaan les hul dors deur met nederige dankbaarheid te gaan drink uit die beker van die Here met die wete dat die oorwinning deur Sy krag en Sy bloed eerder as hul eie toedoen bewerk is. “die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie?”… (1 Kor. 10:16).
Elke ware gelowige wat dus met opregtheid drink uit die beker van die Here en aan Hom deel het, sal kan uitsien na ons ewige erfenis saam met Hom omdat Hy ons deel is. “Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker, Ú onderhou my lot.” (Ps. 16:5).